Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 KORINTIERS – REEKS NO 10
Tema: ‘n Paulininiese Christen
Skrif: 1 Korintiërs 4: 1-5

Ons het gesien watter bittere verdeeldheid daar in die Korintiese gemeente was – partyskappe – sommige lidmate het klieks gevorm agter óf Sefas óf Apollos óf Paulus óf Christus.

Wat hieragter geskuil het, was eintlik ‘n aanslag spesifiek teen die apostel Paulus self. Daar was anomiene afwykende leraars wat die gemeente van Korinthe teen Paulus aangevuur het. Die partyskappe was daarop gemik om spesifiek van Paulus se teologie ontslae te raak. Om iets in die plek daarvan te stel. Hulle wou aanbeweeg sonder die hindernisse van Paulus se teologie. Net soos Paulus vandag steeds ‘n remskoen en aanstoot vir baie is.

Dit is ons afleiding wanneer ons hierdie brief – asook 2 Korint – tussen die lyne lees.

Paulus was die Goduitverkore instrument om nie net – te same met die ander apostels – die fondasie van die kerk van alle eeue te lê nie – dit is Christus die gekruisigde. Hy was ook die Goduitverkore instrument om aan te toon HOE op die fondasie gebou moet word. Hy moes aantoon wat die implikasies van navolgingskap van Jesus die gekruisigde behels.

En daartoe het Paulus unieke onherhaalbare ervarings gehad soos sy unieke bekering en roeping tot apostel, die drie dae van blindwees, die jare van totale afsondering in Arabië, die visioen van die derde hemel. En voeg daarby die 13 Geesgeïnspireerde briewe in die NT.

Alle, alle, alle dwalings en kettery deur die afgelope 2000 jr van kerkgeskiedenis, hou ALTYD verband met ‘n (soms opsetlike) misverstaan van die apostel Paulus se teologie. Vandag nog word mense bitterlik ge-afronteerd oor wat Paulus leer. Wat juis wys hoe korrek hy deur die Heilige Gees gelei was.

Sommige kerke tree op asof Paulus glad nie in die Skrif is nie. Een NG leraar sê van die kansel af hy dink Paulus het sielkundige probleme gehad. Wyk af van Paulus en jy val jou te pletter. Die Korintiers was op pad soontoe.

Sonder Paulus sou ons min geweet en verstaan het. Wyk een milimeter van hom af en jy tas in die donker rond. Alle afvalligheid – noem maar op: teologiese liberalisme en vrysinnigheid, progressiewe Christendom, feminisme, sosiale geregtigheid, morele liberalisme, dwaling oor dit en misvatting oor dat – ALLES – is die gevolg van treinongelukke. Treine wat die spoor verlaat het. Die Pauliniese spoor.

So, wie en wat was hierdie man – Paulus?

LEES WEER VERSE 1-2

Nou verskuif die apostel se fokus van die GEMEENTE af na die WOORDBEDIENAARS toe. Dis nou veral hyself, Apollos en Sefas (Petrus). Hy praat van ONS (en dit sluit die apostels in), maar hy bedoel eintlik HYSELF! Pastorale nederigheid!

En hy wil veral EEN DING duidelik aantoon, naamlik dat MENSE se beoordeling van Woordbedienaars (homself) van hoegenaamd geen belang is nie. Hy is aan God alleen verantwoordbaar en slegs God alleen is in staat om ‘n ware beoordeling te gee.

Hier word glad nie verwys na vals leraars nie. Hulle MOET beoordeel en vermy word. Elke Christen MOET vals leraars kan uitken. Hier word verwys na die leraars van Christus!

Hulle is deur Christus aan die gemeente gegee as gawe – vir die HELE gemeente – nie net vir ‘n groepering binne die gemeente nie.

Alles, alles wentel om die Here Jesus Christus en alles sentreer in die Here Christus.

Kyk net na hierdie pragtige vers 1.

Die Woordbedienaars staan in diens van Christus AS dienaars van Christus. Klaar uit en verby! Dis dit!

En moenie uit die oog verloor nie: Dit geld ook vir alle ware kinders van God. Is jy waaragtig uit God se Gees gebore, van Bo gebore, dan IS jy ‘n dienaar van Christus en in Sy diens. Of jy dit weet of nie. En of jy dit kies of nie. En of jy dit wil, of nie. Die beste vir jou eie welsyn is om van harte gehoorsaam te word en te begin WEES wat jy alreeds IS: dienaar in Sy diens en aan Hom alleen verantwoordbaar.

Ja, Paulus, Petrus en Apollos is inderdaad deur Christus tot beskikking van die gemeente gestel, maar nie eerstens om die wense en opdragte van die gemeente uit te voer en aan hulle rekenskap te gee nie. Alleen aan Christus is hulle onderworpe en gehoorsaam. En alleen deur God word hulle werk beoordeel.

Dit het natuurlik ‘n enorme verantwoordelikheid tot gevolg. Yslik. Ondenkbaar groot.

Daar word juis daarom voortdurend by hulle gesoek na EEN bepaalde eienskap naamlik GETROUHEID, sê die Apostel. Getroue uitvoering van hulle opdragte en betroubaar in alles en verantwoordbaar aan die lewende God.

Getrou, betroubaar en verantwoordbaar.

Wat Woordbediening betref, het dit alles betrekking nie net op die manier/wyse van verkondiging nie, maar veral die inhoud van die prediking van God se heilige Woord.

Dit moet so sekuur moontlik die Skrif en die bedoeling van die EINTLIKE outeur van die Skrif – naamlik die Heilige Gees – naspreek.

So moet die gemeente die bedienaars sien.

Hulle is DIENSKNEGTE en RENTMEESTERS. Dit is dit.

Die Griekse woord wat in vers 1 met diensknegte vertaal word, het oorspronklik verwys na die span roeiers wat in die onderste deel van ‘n destydse skip gesit en roei het. Dit wys dus op die tipe diens wat gelewer word – iets soos harde werk. En beslis nie elite-klas arbeid nie.

Die Woordbedienaar is ‘n nie-elite dienskneg wat as bedienaar van die verborgenhede van God optree. Die Griekse woord vir bedienaar/rentmeester, verwys na ‘n opsigter/bestuurder/opsiener wat aan sy heer verantwoordbaar is. Sy meester het hom met sy rykdom toevertrou en hy moet dit so goed as moontlik namens hom bestuur.

En ons weet uit hoofstuk 2 dat hierdie verborgenhede van God, wat die rentmeester moet bestuur, verwys na die kruisboodskap. Dit is Jesus as die gekruisigde. Hy is die verborgenheid/misterie van God. Dit is nie iets nie, dis Iemand!

Die Woordbedienaars is dus lae klas diensknegte (die roeiers) wat as opsieners/bestuurders/rentmeesters die kruisboodskap moet bedien met verantwoordbaarheid aan Christus self. So ywerig en oorgegee en toegewyd en getrou en betroubaar as wat dit moontlik is om dit te doen.

Dink net daaraan: Om NAMENS die lewende Here iets wat Hy aan jou toevertrou het, te bestuur.

En ons weet mos nou dat presies dieselfde waar is van elke Christus-gelowige. Nie net die oorspronklike apostels en latere Woordbedienaars nie, maar elke mens wat die Here Jesus bely, is ‘n nie-elite dienskneg van Hom wat as rentmeester die Evangelieboodskap namens Hom bestuur in die wêreld. ‘n Mens se kop raak duiselig net by die gedagte daaraan!

En hoe moet die gemeente nie in besonder die Woordbedienaars in gebed dra nie en dit vir hulle maklik maak om die werk gedoen te kry. En GEDULDIG wees met mekaar en mekaar se swakhede.

LEES WEER VERSE 3-4

‘n Woordbedienaar, deur Christus geroep en in Christus se diens gestel, is ‘n vreemde verskynsel. Ja, ‘n Christus-gelowige opsigself is ‘n vreemde verskynsel. Kyk net die verstommende dinge wat die Heilige Gees (deur die apostoliese pen) hier sê.

Paulus vra: WIE het die reg en bevoegdheid om die dienaar van die Here te beoordeel?

Die Korintiese gemeente het presies juis dit gedoen – hulle het die apostels en Woordbedienaars beoordeel en hulleself agter die bepaalde persoon geskaar van wie hulle hou – wie hulle as groepleier kies, wie hulle positief beoordeel. En – eintlik gemik daarop om Paulus te isoleer.

Veral verwys die apostel hier na daardie anonieme leraar(s) wat sy (Paulus) se invloed wou ondermyn en hom diskrediteer. Paulus is die heeltyd beloer en verkleineer.

En wat is sy reaksie daarop? Hy sê: Dit pla my nie eintlik nie. Vir my is dit ‘n baie geringe ietsie om deur julle beoordeel te word. Ek vrees net die Here God. Nie vir julle nie.

Hy sê die gemeente se optrede – om die Woordbedienaars so te beoordeel en groepe te vorm, is vleeslike optrede. Vir hom persoonlik, sê hy, is dit van geen belang of hy deur die gemeente of selfs ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Aan derglike instansies is hy geen verantwoording verskuldig nie – omdat hy nie in hulle diens staan nie.

Gestel byvoorbeeld hy voer wel getrou die opdrag uit wat hy van die Here ontvang het, maar MENSE oordeel anders? Dan is hulle verkeerd en skuldig. Aan die einde van die dag is hy slegs aan die Here verantwoordbaar – in só ‘n volstrekte sin, dat sy eie oordeel oor homself nie eens enige waarde het nie. Let op!

Wat ‘n verrassende stelling om te maak! Hy is SO in Christus se diens, dat sy eie opinie oor homself geen gewig dra nie. En wat die Korintiers van hom dink, tel ook geen punte nie.

Die Griekse woord wat hier met BEOORDEEL vertaal word, verwys nie na wat sal gebeur by die finale Groot Dag nie, maar beteken iets soos kritiese eksaminering.

Voortydige – voordat die Regter kom – menslike sifting van Woordbedienaars, is van weinig nut en betekenis, sê die apostel. Die beste ding om te doen is om te wag op die Groot Regter. Dit is Christus Jesus self.

Hoe maklik kan ook sy eie idees oor homself, oor sy geestelikheid, oor sy bediening, verkeerd en misleidend wees. Die hart is bedrieglik bo alles (Jer 17:9). Introspeksie kan lei tot depressie. ‘n Mens kan ‘n opinie oor jouself vorm wat glad nie met die Here s’n (die waarheid) strook nie. Dis alles in jou eie kop, maar klop nie met die Skrif nie.

Die beste is om net voluit voort te gaan met die diens van die Here. Voluit en nogmaals voluit. En kyk nie regs of links nie – sien Spreuke 4: 25 > Laat jou oë reguit vorentoe kyk en laat jou blik net voor jou wees en moenie uitdraai na regs of na links nie..

Fokus voluit op Christus en Sy beloftes en absolute gehoorsaamheid wat tot op die been sny en maak geen kompromie nie.

‘n Christen kan nooit op sy/haar eie of op ander se oordeel oor homself vertrou nie. Selfs al kla jou gewete jou op geen punt aan nie, en is jy jou van niks bewus nie, soos die apostel op daardie moment oor homself gevoel het, wanneer hy sê dat hy hom nie bewus is van enigiets teen hom nie – dan verwys hy na sy gewete voor God. Daar was geen onbelyde bewuste sonde of moedswillige gebreke in sy dienswerk vir die Here nie. MAAR: Sy vertroue is nie DAAROP, dat dit is hoe die HERE oordeel nie. Nee, hy vertrou slegs op die Here se beoordeling.

En wat is dit? Omdat CHRISTUS sy (Paulus se) geregtigheid en heiligheid is (1 Kor 1:30). Omdat Christus se volpunte vir hom tel, weet hy dat daar nie veroordeling is vir iemand wat in Christus is nie (Rom 8:1).

In hierdie verse 3-4 sien ons ‘n opsomming van wat Pauliniese Christendom is – fantasties en briljant.

Paulus het ‘n klein sig op homself gehad. Al waaroor hy besorg was, was om ‘n getroue dienskneg en rentmeester van Christus te wees. Hy soek daarom glad nie mense se goedkeuring nie. Nie eens sy eie goedkeuring nie! Net die Here s’n. Hy behaag nie mense nie. Hy behaag God. Hy maak geen kompromie ter wille van mense nie. Hy soek die eer van God bo alles. DIT = IN ‘N NEUTEDOP = IS WIE PAULUS WAS. En wat ‘n ware Nuwe Testamentiese Pauliniese Christen is.

LEES WEER VERS 5

In kort net weer ‘n samevatting:
Die gemeente in Korinte het die Woordbedienaars deurgekyk en beoordeel en partyskappe rondom die dienaars gevorm en so het daar interne verdeeldheid ontstaan. En hulle was aangespoor deur sekere leraars wat hulle eintlik teen Paulus self opgemaak het.

Dit is wat gebeur wanneer ware Christene – wat in beginsel ingesluit is by Christus en dus by God se wysheid – volgens menslike/wereldse wysheid sake bedryf. Dink daaraan: Jy het in beginsel deel aan God se wysheid, maar jy gaan leef uit menslike wysheid.

Die apostel veroordeel dit ten sterkste.

Die beoordeling van Woordbedienaars (bedoel nie vals leraars nie – slegs ware leraars soos Paulus en kie was) berus slegs by die Here. Die gemeente Korinte kan nie die Here vooruitloop nie. Hulle moet liefs hulle opinies terughou totdat die Regter verskyn. Voortydige oordeel, werk nie.

Uit die Grieks blyk dit dat die Korintiers voortdurend hiermee besig was. Dit was nie net iets momenteel nie.

HOU OP DAARMEE, sê die apostel reguit. STOP DIT! Want die Here gaan beslis kom, hoewel die tydstip wanneer Hy kom, onseker is. Wat onseker is, is nie OF Hy gaan kom nie – nee dit is seker – wat onseker is WANNEER Hy kom!

Daarom dan: Kry julle huis in orde!

Maar, daar is ook nog iets meer om te sê, sê Paulus: Die oordeel van die Here sal perfek volmaak wees. Dan sal ALLE dinge bekend word, selfs die diepste bedoelinge van die hart en daarom sal daar dan na waarheid geoordeel word. Woordbedienaars sal dan weet of hulle getroue bedienaars van die Evangelieboodskap was. En elkeen sal ooreenkomstig daarmee lof van God self ontvang. Die lof wat elkeen toekom.

Indien die Korintiers sekere persone bo ander wil verheerlik, is dit beter om daarmee te wag tot DAN wanneer die ware waarheid duidelik sal wees. Die enigste lof wat regtig saakmaak, is die Here se lof – dit wat uit Sy mond kom.

Die begrippe VERBORGE DINGE VAN DIE DUISTERNIS en DIE BEDOELINGS VAN DIE HART verwys binne hierdie konteks nie noodwendig na sonde en boosheid nie, maar dit praat van die geheime begeertes en motiewe en dryfvere wat in die Christenmens se binneste teenwoordig is – veral in Woordbedienaars se innerlike – ook die goeie en edele dinge. Die dinge wat een Christen nie van ‘n ander kan sien nie. Net God alleen ken dit en Hy sal dit blootlê op die Groot Dag en dit sal lof tot gevolg hê. Die lof wat die Christen toekom (en veral hier verwysende na Woordbedienaars) SAL hy ontvang – van die Allerhoogste self.

Oor watter tipe eksaminering was die apostel dus besorg? Waar was sy oog gefokus? Antwoord: Om eendag voor die Here te staan. Om LOF te mag ontvang uit die mond van die Allerhoogste. Wat is daar op aarde wat daarmee vergelyk kan word? Ja, soms LEEF ons asof daar dinge is wat groter is, maar wanneer ons aardse lewe afgesluit word, besef ons meteens: Nee, daar was niks groter nie!

En dis al waaroor enigiemand besorg moet wees.

Category 1 Korintiers

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)