Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 KORINTIERS – REEKS NO 4
Tema: Beheers deur God se wysheid
Skrif: 1 Korintiërs 1: 26-31

Die DWAASHEID van God, is wyser as die mens se WYSHEID! Dit staan in die vorige verse wat ons vorige keer bestudeer het.

En dit is juis die stelling wat bitter min mense regtig glo. Dit is lekker om te dit bely, maar baie moeilik om dit te glo.

Die DWAASHEID van God, is wyser as die mens se WYSHEID! Verwysende veral na die gekruisigde Verlosser en die boodskap oor die gekruisigde Verlosser wat oral oor die wêreld verkondig word tot redding. In die oë van die wêreld is dit een stuk domheid.

Maar die dwaasheid van God sluit ook die hele Skrif in. Die hele Skrif bots totaal met menslike wysheid en die mens reken die Skrif is een stuk domheid.

Ons sien dit elke dag in ons eie harte en lewens waar ons dikwels op subtiele manier net eenvoudig ons eie wysheid/sienswyse/manier-van-redeneer-oor-dinge bó God se Woord stel en Hom blatant ongehoorsaam is. Of glad nie eens weet wat die Woord leer oor dit of dat nie.

Wanneer ek soms luister na hoe mense praat en redeneer, dan wonder ek heimelik: het hy/sy dan nog nooit die Skrif gelees nie?

Die DWAASHEID van God, is wyser as die mens se WYSHEID!

En hier is nou – in verse 26-31 – ‘n klinkklare bewys daarvoor: Kyk net na die samestelling van die destydse gemeente in Korinte. Dit wys hoedat God totaal anders handel as wat die wysheid van die mens sou redeneer en doen.

Kyk nou hierna: God die Vader het die swakheid en dwaasheid van die gekruisigde Messias laat weerspieël/weerkaats in hoe onaansienlik die gemeente Korinte daar uitsien. Die samestelling van lidmate – wat die gemeente uitmaak – weerspieël die swakheid van die kruis – wat die MENS dink pure dwaasheid/domheid is.

Hou net een oomblik in gedagte wat vers 24 gesê het: Niemand kan ‘n ware geredde kind van God word en niemand kon deel van die Korintiese gemeente wees sonder dat daar ‘n effektiewe, onweerstaanbare en lewensherskeppende ROEPING en inisiatief van God af uitgegaan het op so ‘n persoon nie.

Ja, deur die getroue Woordbediening en die kragtige meegaande werk van die Heilige Gees wat geloof en bekering skep, het daar ‘n roeping uitgegaan. Van God af. En DIT het bepaal wie gered word en wie gemeentelede sou wees. Uitsluitlik en eksklusief daardie genadehandeling van God – gegrond en geanker op Sy Raadsplan en verkiesing – bepaal hoe die gemeente saamgestel is. Nie menslike wysheid/keuse/handeling bepaal dit nie, maar God se wysheid.

Maar kyk nou hoe werk hierdie wysheid van God – hoe dit uitspeel in die praktyk. Kyk en sien watter SOORT mense God geroep het. Is DIT enigsins hoe menslike wysheid sou doen? Sou menslike wysheid die gemeente op so ‘n manier saamstel? Menslike wysheid sou tog sekerlik uitstaande, wonderlike mense in die gemeente wou sien? Die hoogs intelligentes. Die rykes. Die wat vermoënd is. Die vooraanstaandes. Die wat aandag trek. Die wat beïndruk. Die mees hoopvolle materiaal.

Maar nee, juis nie! Wie kies God uit om lidmate te mag wees? Diegene wat die minste belofte inhou. Nie hulle vir wie die Griekse kultuur belangrik ag nie – die wysgere en filosowe nie.

LEES WEER VERS 26

Wel, natuurlik wás daar diesulkes – die vooraanstaandes en geleerdes, maar hulle was min in getal. Invloedrykes wás daar, maar min. Daarom sê die apostel: NIE BAIE NIE. Hy gebruik daardie presiese woorde. Invloedrykes wás daar as lidmate van die Korintiese gemeente, maar nie baie nie. Terwyl menslike wysheid dit andersom sou doen!

God handel gewoon ANDERS as wat die wysheid van die wêreld sou doen. By HOM gaan dit nie oor wat iemand in die samelewing is nie, nie oor adelike stand nie, nie oor posisie nie, nie oor titels nie, maar enkel oor die hemelse roeping en die lewe van geloofsvertroue en die gevolglike vrug van die Heilige Gees en kosbare diensbaarheid in Sy koninkryk.

Ek het nagedink oor die twee manne wat die afgelope Pinkstertyd hier by ons was – Paulus Erasmus en Mervyn van Wyk – wat met twee reuse kruise deur die land stap om die Evangelie oral te bring.

Hulle is nog relatief jonk en het alles prysgegee ten einde voltyds Suid-Afrika te deurkruis met hulle voete. Ek ken nie hulle agtergrond nie, maar dit is duidelik dat hulle alles wat die wêreld as belangrik sou ag, prysgegee het om ‘n Godgegewe roeping te gehoorsaam.

God se wysheid en die wêreld se wysheid het geen raakpunte nie.

LEES WEER VERSE 27-29

By die oorspronklike sondeval was die kernsonde van die mens dat die mens ‘n posisie teenoor God gaan inneem het, wat hom nie beskore was nie.

Dit is wat ongehoorsaamheid en wetsoortreding doen: dit plaas die MENS wederregtelik op die troon. Dit gee die MENS roem in homself TEENOOR die oneindige, heilige, heerlike God. Dit is afskuwelike sonde wat die ewige helse vuur deur en deur verdien. Tewens, dit het die Seun van God SY dood gekos.

Daarom is dit so dat OOK in die geval van God se verloste kinders in Christus, God geen eie roem toelaat nie. Kyk vers 29 die woordjie SODAT. Dit wys op die rede/doel vir die voorafgaande verse waar die apostel so duidelik aantoon dat God die gemeente in Korinthe saamgestel het NIE uit die vooraanstaandes in die samelewing soos die MENS sou dink dit moes wees nie, maar die meerderheid mense wat tot redding en saligheid gekom het en by die gemeente gevoeg is – natuurlik deur die Vader se besluit en daad – was oorwegend eenvoudige mense wat nie vreeslik invloedryk was nie. Jy sou hulle nie in koningspaleise aantref nie.

En God se doel hiermee? Dis die SODAT in vers 29. Die rede daarvoor is wat? SODAT NIEMAND ENIGIETS HET WAAROP HY HOM/HAAR KAN BEROEM VOOR GOD NIE. Alle roem behoort slegs aan God alleen. Zero aan die mens. Zero aan die kind van God. Ja, dit geld ook vir Christene.

God kies daarom dit wat swak en dwaas is in die oë van die verloregaande wêreld om dit wat wys en sterk is in die oë/opinie van die verloregaande wêreld, te beskaam – sodat daar geen ruimte vir enige eie trots is nie.

Opvallend is weer eens die aksent wat die Heilige Gees (deur die apostel se pen) plaas op God se verkiesing (vers 27). God se ewige besluit sit AGTER Sy werksaamheid in die vorming en versameling van die ware gemeente van Christus. Nie die MENS se besluit nie. Want sou dit van die mens afgehang het, sou daar geen Christengelowige gewees het nie. Sou dit van die mens afgehang het, sou daar nooit ‘n gemeente van Christus wees nie – OF sou die gemeente saamgestel wees uit DIT wat vir die wêreldse mens belangrik en kosbaar is.

Die probleem is net: Dan was daar ruimte vir roem. Ruimte vir selfversekerdheid op grond van eie keuse en prestasie. Maar nee, dis alles uitgesluit. Die roem kom SLEGS die Here toe!

LEES WEER VERSE 30-31

Van die negatief nou na die positiewe.

NIEMAND kan/mag voor God roem nie. Waarin is die Christus-gelowige mens se roem dan wel geleë? Dis die vraag.

Hier is die kristalhelder antwoord: Die antwoord wat van die Heilige Gees kom, want praat die Apostel, dan praat die Gees.

Ja, die verloste mens is IN CHRISTUS (ingesluit by Christus) deur middel van (as gevolg van) die Vader se werksverrigting. Die Vader is die alleen-bron vanwaaruit die gelowige in Christus ingesluit is. Die Christen het totaal niks self kon doen om daardie insluiting te bewerkstellig nie. Niks. Zero. Dit is God se werk van A-Z.

Die Christenmens staan dus in die nouste verbondenheid tot sy/haar verlosser. Christus is die atmosfeer waarbinne die gelowige leef – danksy God die Vader se besluit en werksverrigting. Ingesluit by Christus Jesus wat VIR die gelowige God se wysheid & regverdiging & heiliging & bevryding geword het.

Wat ‘n fenominale stelling! Skitterend. Wonderlik. Daar is die hele evangelie in een sin/paragraaf.

VIR beteken plaasvervangend. IN DIE PLEK VAN die gelowige, het Christus DIT geword VIR DIE VOORDEEL van die gelowige.

VIR beteken: Ek het VIR jou betaal. Jy betaal niks, maar my betaling tel VIR jou en jy pluk die voordeel daarvan.

God se eie wysheid is beliggaam in Christus. Die gelowige se regverdigmaking, heiliging en bevryding is beliggaam in Christus. En omdat die gelowige by Christus ingesluit is, IS Christus SELF al daardie dinge VIR die gelowige (elke woord tel gewig).

REGVERDIGMAKING = Posisie van regwees met God
Heiligmaking = Syne wees
Bevryding = verlos van die gevolge van sonde
HIERSONDER = verlore!

Dink net daaraan: Soos die Vader na die kind van God kyk, sien Hy slegs CHRISTUS se wysheid, geregtigheid, heiligheid en bevryding. Hy sien nie die persoon se gebreke nie. Hy sien Christus se volheid en perfeksie. Want Christus is dit alles VIR die gelowige. Dit TEL vir die gelowige. Die Vader het Christus se wysheid, geregtigheid, heiligheid en bevryding op die gelowige se rekening oorgeboek. Alles, alles is uit die Vader.

Ons kan dit noem TOEGEREKENDE GEREGTIGHEID! Toegerekende REGWEES. REGGESTEL-WEES. Dis nie joune nie. Dis Christus s’n. Maar die Vader het dit jou toegereken. So, dit IS nou regtig joune. Indien iets wat nie joune is nie, vir jou toegereken word, dan is dit joune! Al is dit nie joune nie, maar Syne.

God die Vader kyk na Sy kind IN CHRISTUS as iemand wat wys is, reg is, heilig is, bevryd is.

Omdat die gelowige dit alles in beginsel in Christus IS, kan/moet hy/sy dit in die praktyk WORD. Met ander woorde dit uitleef deur vir God doodgewoon daarvoor te begin GLO.

Ja, en omdat dit alles so 100% UIT GOD is, is die gelowige se roem in SY genade, SY besluit, SY werksverrigting alleen. Jy roem ja, maar jy roem in Hom. Geen eie roem nie – dit is uitgesluit.

Dit is die heerlike bevryding/vryheid vir ‘n mens. Om van jouSELF bevry te wees en die Here God alleen te mag aandui as die Een uit wie, tot wie en vir wie alles is.

OPSOMMEND:

Die wysheid van die wêreld/mens het altyd op een of ander manier DIE MENS in die fokuspunt. En dit lei tot die dood.

Die wysheid van God het altyd vir CHRISTUS JESUS in die fokuspunt. En dit lei tot die lewe.

Elke mens op aarde se lewe word beheers deur een van hierdie twee wyshede. Daar is niemand wat buite dit staan nie. Hetsy die dood of die lewe is aan die werk in elke mens se lewe.

Wie deur God se wysheid beheers word, word deur die Heilige Gees beheers. BEHEERS = wie die sê het

‘n Mens kan self toets wie se dienaar jy is. Dit is heel maklik. Wanneer daar ‘n bevel/impuls kom – uit ‘n sekere oord: Reageer jy daarop of nie? Die een op wie se roep jy reageer, daardie een se slaaf is jy.

Wanneer die wysheid van God die sê het in my lewe, dan roep ek uit: “Dat ek HOM mag ken en die krag van Sy opstanding mag ondervind en ook deel mag hê aan Sy lyding in gelykvormigheid aan Sy dood” (Filip 3:10)

EN OOK: “Dat HY in alles die eerste mag wees” (Kolos 1:18).

Category 1 Korintiers

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)