Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 KORINTIERS – REEKS NO 9
Tema: Die waarheid maak vry!
Skrif: 1 Korintiërs 3: 16-23

‘n Mens kan sien dat die Apostel Paulus – die menslike outeur van die 1 Korintiers-brief – se gedagtegang nou ‘n nuwe draai maak.

In die voorafgaande paragraaf het hy nadruk gelê op drie kernwaarhede:

1 > Christus Jesus en die ware leer van die waarheid is die fondament waarop Sy kerk gebou is en die apostels het hierdie fondament eens en vir altyd gelê. Niks kan ooit daar bygevoeg word of weggeneem word nie

2 > Deur al die eeue wat sou volg, word daar op die fondament gebou. Deur Woordbedienaars, maar ook deur elke ware Christenmens. En hy het aangetoon wat hierdie bouwerk behels

3 > God sal elkeen volgens sy/haar bouwerk beloon.

Maar nou kom hy by die REDE vir dit alles.

LEES WEER VERS 16

Die gemeente van Christus moet tot die duidelike besef kom, dat hulle die tempel van God is en dat God die Heilige Gees in hulle woon. Daar bestaan nie meer ‘n aardse tempel, met ‘n Allerheiligste waar die Shekinah heerlikheid van God woon nie. Die tempel is nie meer die een of ander gebou nie. Dit is mense. Dis die gemeente/kerk/ekklesia van Christus. DAAR woon die Heilige Gees nou in. In die individuele geredde mens, maar ook te same in die gemeente as sulks.

Wat ‘n geweldige waarheid is dit nie?

Meermale word die Here se kerk in die NT die TEMPEL VAN GOD genoem – soos byvoorbeeld in 2 Kor 6:16, Efes 2:21 en 1 Petr 2:5. En dit is nie sommer net beeldspraak nie. Dit is absoluut letterlik bedoel. God woon letterlik in Sy gemeente. Soos dit in die OT tydvak die geval was met die tabernakel en tempel in Jerusalem.

Ons het ‘n paar maande gelede, in ons studie oor die Tabernakel, gesien hoedat die Shekinah heerlikheid van God se teenwoordigheid in die Allerheiligste bokant die verbondsark en versoendeksel was en in die woestyn sigbaar was vir die volk Israel in die verskyning van ‘n wolkkolom (bedags) en vuurkolom snags. God was heel letterlik IN Sy tempel!

Terwyl in die Nuwe Verbond, die tempel die MENSE is. Nie alle mense nie, maar diegene wat bonatuurlik lewendgemaak is in Christus en wat Christus met al Sy verdienste omhels deur geloofsvertroue. Hulle is ALTYD in konkrete gemeentes sigbaar vergader.

Daar is in die Grieks twee woorde vir TEMPEL en die een wat hier gebruik word, NAOS, verwys spesifiek na die onmiddelike teenwoordigheid van God. En dit klop 100% met dit wat die Apostel hier sê, naamlik dat die Heilige Gees IN die gelowiges en IN die gemeente woon. Die Heilige Gees het dus vir Paulus so gelei om die woord NAOS te gebruik omdat dit korreleer met die inwoning van die Heilige Gees en dus met God se onmiddelike teenwoordigheid – nie net in die lewe van die individuele weergebore mens nie, maar ook die kinders van die Here SAAM as liggaam van Christus en spesifiek vergader in die plaaslike gemeente.

Die Griekse woord waarvan die woord KERK afgelei is, is KURIAKE – wat beteken DIE HERE S’N. En die Griekse woord waarvan GEMEENTE afgelei is, is die woord EKKLESIA – wat beteken UITGEROEPENES. Voeg die twee bymekaar en jy kry die prentjie.

Wat ‘n enorme groot Godswonder en heerlikheid is dit nie. Die persoon van God die Heilige Gees en die teenwoordigheid van die lewende God is IN en BY die gemeente.

Die begrip GEES VAN GOD, waar daar na die Heilige Gees verwys word, word nie algemeen in die NT op hierdie manier gebruik nie. Wel hier in vers 16. Dit wys op die verbinding van die Heilige Gees en God die Vader binne die Drie-Eenheid en beklemtoon dus die ware Godheid van die Heilige Gees. Hy is WAARLIK ten volle God net soos die Vader en die Seun. En tog is dit nie drie gode nie, maar EEN waaragtige Godheid.

Die Heilige Gees is van geen laer rang of orde as die Vader en die Seun nie.

Wanneer ‘n individuele Christen, maar veral ‘n gemeente, iets van hierdie groot realiteite begin verstaan, sal almal versigtiger wees met hoe hulle prakties leef en sal hulle goed soos verdeeldheid en partyskappe stopsit – iets waaraan die Korintiers juis skuldig was, maar waarvan hulle lieflik bevry kon word deur bloot net die waarheid rakende hulle ware identiteit as gemeente te begin verstaan en glo. Net die verstaan van die waarheid, sou hulle vrymaak.

LEES WEER VERS 17

Mens kan nou beter sien waaroor Paulus se hele betoog van die afgelope klompie verse gegaan het. WAAROM hy praat van die gemeente as bouwerk, Jesus as fondasie, almal wat op die fondasie bou en hoe elke bouer loon sal ontvang of verbeur – want sommige bou met boumateriaal soos hout, hooi en stoppels wat nie by die fondasie pas nie en minderwaardige boumateriaal is.

WAAROM DIT ALLES? Want dit gaan oor die eintlike saak waaroor hy nog al die pad praat, naamlik die verdeeldheid en partyskappe binne die gemeente van Korinthe. Binne daardie onmiddelike konteks, is juis hierdie verdeeldheid ‘n voorbeeld van om-op-die-fondasie-te-bou met hout, hooi en stoppels. Boumateriaal wat verbrand sal word. Dit sal nie die vuurproef van die laaste oordeel deurstaan nie. Want dit skend die tempel van God waar Hy deur Sy Gees woon en dus direk teenwoordig is.

En wat is die tempel? Die gemeente van Christus.

Om tempel van die Gees te wees en die feit dat die Gees inwoon en dat Hy God se teenwoordigheid daarstel, is egter nie iets wat mens kan voel en waarneem nie. Dis nie voelbaar, sigbaar en tasbaar nie. Die blote oog en sintuie kan nie die werklikheid van die inwonende Gees en die tempelwees van die gemeente waarneem nie. Dis onmoontlik.

Dit word deur geloofsvertroue geken en beleef.

Maar wat is geloofsvertroue? Is dit maar ‘n skoot wat ons in die lug skiet en hoop dit tref iewers iets? Nee. Geloofsvertroue is om swart op wit met God se Woord te sit en HOM TE GLO VIR WAT HY SÊ! Geloofsvertroue is nie om ‘n tree in die donker te gee nie. Dis gefundeerd op feite en waarheid wat uit God se mond voortkom! En dit is daardie onderrig in God se Waarheidsfeite wat die Apostel in hierdie verse deurgee. Want, ontdek die gemeente DIT – ontdek hulle hulle ware en egte identiteit as tempel van God en hulle ontdek die werklikheid van die teenwoordigheid van die Heilige Gees – sal dit hulle GEDRAG impakteer en verander – dit is: die partyskappe en verdeeldheid stopsit.

‘n Christen se gedrag (lewe) verander wanneer WAARHEID gesnap en geglo word.

Daarom is behoorlike, konstante, onophoudelike, deeglike onderrig vd Skrif so onontbeerlik. Nie melkkossies nie, maar vaste spyse. Want hoe stewiger ‘n Christen in die waarheid staan, hoe beter verstaan hy sy identiteit in Christus. En dit lei onvermydelik tot heiligmaking, geestelike groei en lewensvernuwing. Ou denkpatrone verdwyn en nuwe denkpatrone kom na vore. En dit is presies wat die Apostel hier met die Korintiers doen.

HOE gaan hulle ophou om die tempel van God skade te berokken met hulle partyskappe en verdeeldheid en vleeslike optrede? HOE gaan hulle by die laaste oordeel loon en lof van God ontvang?

Wanneer hulle besef dat die tempel HULLE is en dat die tempel heilig is – bedoelende DIE HERE S’N – bedoelende OPSYGESIT vir Hom alleen. Die tempel is HULLE – die plaaslike gemeente van Christus Jesus in Korinthe. Hulle moes besef dat – indien die Heilige Gees in hulle woon – Hy SY vrug in die gemeente manifesteer – wat liefde, blydskap, vrede ensovoorts is.

Wie die werk van die Heilige Gees probeer verydel en dus die tempel skend, doen sonde.

En tog is hier ‘n woord van troos wat ons moet raakhoor. Die tempel is heilig. Dis God s’n en nie die mens s’n nie. Hy sal dus WAAK oor Sy ware kerk. Ons kan dit seker weet.

LEES WEER VERSE 18-20

Nou kan ons effens begin sien waarom die Apostel vroeër in die brief soveel gewag gemaak het van menslike/wêreldse wysheid in kontras tot God se wysheid. Want ook DIT spits hy nou toe op die probleem/sonde van die partyskappe en verdeelheid in die gemeente.

Want sien: Dit is MENSLIKE/WÊRELDSE wysheid wat Woordbedienaars tot hoë posisies verhef en partyskappe regverdig. Ag, dis dwaasheid in God se oë, sê die apostel. Dis menslike dwaasheid wat nie kan insien dat die gemeente God se tempel is nie.

Moenie julleself gaan bedrieg nie, sê Paulus. Wees realisties. Die gelowige leef tegelyk in die kerk EN in die wêreld – wat gedurig verander. Die gelowige kan nie in die kerk die wysheid gebruik wat in die wêreld geld nie. In die kerk moet jy dwaas wees vir die wysheid van die wêreld sodat jy wys kan word volgens GOD se wysheid.

Voel jy die spanningsveld?

Elke ware Christenmens is daagliks onderworpe aan hierdie spanningsveld. Die waardes waaraan die Christen in die wêreld blootgestel is, is dwaasheid voor God en die waardes waaruit die Christen binne die gemeente van Christus leef, is dwaasheid vir die wêreld.

In wat ‘n geestelike konflik bevind die kind van die Here nie hom/haarself nie!

En dit is so gou soos NOU, dan word die wêreldse wysheid na die kerk toe oorgedra en word voorgegee dat dit God se wysheid is en dit lei tot kompromie op kompromie met die waarheid van die Woord en sodoende bou die Christen op die fondasie – Christus – met hout, hooi en stoppels en gaan hulle loon en lof verbeur op die Groot Dag – soos die apostel reeds verduidelik het.

In ‘n neutedop is DIT die kern van die argument en lering van die huidige paragraaf.

Maar is dit nie dalk net Paulus se eie persoonlike sienswyse nie?

Nee, glad nie. Daarom staaf hy dit wat hy sê uit die Skrif. En wel uit Job 5:13 en Psalm 94:11 – waar die Heilige Gees verklaar dat God sekere mense tou gee en gee en gee totdat hulle later hulleself ophang. Hy LAAT mense in hulle wysheid voortgaan totdat hulle in hulle eie bedinksels soos in ‘n strik vasgevang raak. Of anders laat Hy net hulle gedagtes op niks uitloop. SO eindig wêreldse wysheid. Altyd. Sonder uitsondering.

Wêreldse wysheid is dus ten diepste toe tevergeefs en leeg en vrugteloos.

Salig – baie gelukkig – is die Christen wat dit snap.

Maar Paulus vra: Korintiers, wil julle REGTIG in so iets vasgevang word? Nie? Bekeer dan betyds. Spring uit die bus voordat dit oor die afgrond stort!

LEES WEER VERSE 21-23

Ons sien dus baie duidelik dat – vir die gemeente in Korinthe – hulle vertroue op menslike wysheid vir hulle baie belangrik was – maar die Heilige Gees gebruik die apostoliese pen om hulle fokus weg te draai DAARVAN en hulle te wys op WAT hulle in werklikheid in Christus reeds besit. En sodoende korrigeer hy hulle vleeslike denke.

Christus deel alles wat Syne is met diegene wat op Hom hoop – hulle wat Hom deur geloof in hulle lewens ontvang en aangeneem het. Wat onder andere Syne is, is die Woordbedienaars. En Hy deel ook hulle met almal!

Die Korintiese gemeente was in groepe verdeel. Sommige was aanhangers van hierdie Woordbedienaar en ander was aanhangers van daardie Woordbedienaar. Hulle het gevoel hulle behoort aan die spesifieke Woordbedienaar tot wie hulle aanklank vind. Dit is hoe menslike wysheid opereer.

Maar, volgens God se wysheid behoort die Woordbedienaars tot die gemeente! Die gelowige behoort nie tot ‘n sekere bedienaar nie. Die predikers behoort tot die gemeente. Die prediker is nie daar met die doel om ‘n groep rondom homself te skaar nie! Die bedienaar is tot diens van almal – as ‘n eenheid. DIT is hoe die HEMEL daarna kyk.

Hoe kon die gemeente van Korinthe dan ooit dink dat Paulus en Apollos en Sefas tot diens van sekere groepe binne die gemeente is? Dis die vlees wat so maak en doen.

Intussen het hulle hulself geweldig begrens deur in MENSE te roem en hulleself aan sekere bedienaars te gaan koppel. In stede van met die grootste rykdom te leef van te besef dat alle Woordbedienaars – ja selfs ALLE DINGE – aan HULLE behoort – in Christus! Christus deel alles met hulle. Alles. Hulle is ryk gemaak. Maar nou verarm en beroof hulle hulself.

Tewens, menslike/wêreldse wysheid verarm altyd die mens en perk die mens in.

MOENIE julleself afsny van die ware rykdom nie, vermaan die Apostel hulle.

Let mooi op wat hy sê: Hy sê NIE “alle Woordbedienaars behoort aan julle” nie. Hy sê: ALLES behoort aan julle.

Wat ‘n geweldige stelling om te maak!

Daar is eenvoudig geen beperking op wat alles aan hulle in Christus behoort nie! Ja, die wêreld, die kosmos, lewe en dood, teenwoordige en toekomstige dinge – ALLES is julle s’n.

Hoe kan hy dit sê?

Want lewe in Christus is die enigste lewe wat daar is wat regtig saakmaak. En selfs die dood is daardeur opgeslurp en oorwin. In Christus is selfs die dood net pure wins en geen verlies nie. Wat vir die verloregaande wêreldse mens die einde van alles is, behoort aan die kind van God as wins. Die toekoms se bedreiging is ook iets van die verlede. Ook dit is wins in Christus. Alles behoort aan die Christen. Maar die Christen behoort aan Christus. Ingesluit by Christus. En dus is jy nie self jou eie eiendom nie.

Verby is menslike/wêreldse wysheid en vleeslike optrede dus.

Die Christen is Christus s’n.

En Christus volvoer die wil van SY Vader in Sy verlossingswerk wat aan Hom opgedra is.

Dit beteken nie die Here Jesus is minder as die Vader nie. Hy is ewig God. Daar bestaan geen rangordes binne die Drie-Eenheid nie.

Maar Christus het die Vader se wil uitgevoer volgens die Vader se ewige Raad en Hy het mens geword en God se wil volbring.

IN HOM besit die kind van die Here ALLES.

In beginsel is die verloste mens dus bevry van vertroue op menslike wysheid en kan en moet en mag hy/sy uit die ware wysheid van God begin leef – prakties elke dag!

Category 1 Korintiers

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)