Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

2 TIMOTEUS – REEKS NO 2
Tema: Onbeskaamd vir die Evangelie!
Skriflesing: 2 Timoteus 1: 8-18

Die Apostel Paulus kom raak nou ‘n baie gevoelige snaar aan:

En dit is: Timoteus (en ons) skaamheid om openlik vir die Waarheid van die Evangelieboodskap op te staan. Openlik opstaan – voor die MENSE. Ai, dit is regtig ‘n sensitiewe onderwerp. Want mensevrees sit baie diep gewortel in almal van ons – ook Timoteus. En dit veroorsaak dat ons allerlei redes uitdink om ongehoorsaam te wees aan die Here God se duidelike opdrag aan alle Christene om die Evangelieboodskap aan alle mense te verkondig.

In daardie antieke tye van vele gode en vele here – soos 1 Kor 8:15 dit stel – het die mense hulle beroem op die prestasies van hulle gode. En onthou: die Christene moes binne hierdie afgodiese mileu leef en aan die waarheid getrou probeer bly. Dit was voorwaar nie maklik nie. Timoteus en die Efesegemeente was midde-in dit.

Binne só ‘n omgewing was die versoeking vir Christene groot om eerder te swyg, stil te bly oor die gekruisigde Here in wie hulle geglo het – soos Rom 1:16 dit stel. In daardie vers sê Paulus dat hy hom NIE skaam vir die Evangelieboodskap nie.

Met “skaam” bedoel die apostel die verlies van vrymoedigheid om openlik die Gekruisigde Christus as ENIGSTE EKSKLUSIEWE (sluit ander opsies uit) Verlosser en ENIGSTE waarheid te verkondig. ‘n Stuk terughoudenheid om hulle met die apostel Paulus te vereenselwig, want in huisarres in Rome was hy nou nie eintlik die toonbeeld van die vrug van Christus se verlossing nie. Hy lyk eerder soos ‘n groot verloorder.

Toe Paulus die eerste keer in Rome gevange was ter wille van Christus, het Timoteus hom hartlik bygestaan, maar noudat Paulus ‘n tweede keer daar is, was dit asof Timoteus begin kleinkoppie trek het. Hy kry nou half skaam om te erken dat sy leermeester en geestelike vader soos ‘n misdadiger in boeie sit.

Hy het egter uit gedagte verloor dat Paulus nie ‘n gevangene van die Keiser was nie, maar van Christus en weens sy getrouheid aan Christus Jesus. Timoteus moes na regte eintlik dankbaar en trots gewees het op die Apostel.

Daar is soms ‘n prys wat betaal moet word vir getrouheid aan die Evangelieboodskap. Soms is die prys lyding en beproewing. Timoteus moes SELF ook bereid wees daartoe.

Gelukkig hoef geen ware Christen in sulke omstandighede te twyfel aan die krag wat God verleen nie. Dit gaan nie oor die uithouvermoë van die Christen nie, maar die bekragtiging wat God self gee. Daarom hoef ons ons nooit te skaam vir die waarheid nie! Nooit nie en nêrens. “Staan op, staan vir Jesus, o helde van die kruis. Verhoog sy krygsbaniere deur al die strydgedruis! Deur stryd lei tot oorwinning die Heiland keer op keer, tot Hy oor elke vyand vir ewig heers as Heer “ – lui die ou Hallelujalied wat ons destyds gesing het.

LEES WEER VERS 9

Nie menslike vermoë nie, maar net God se krag maak dat ‘n Christen verdrukking ter wille van die Evangelieboodskap kan verdra en deurstaan, het vers 8 gesê.

En hoe anders, want die ganse verlossing van die sondaar het sy oorsprong in God, sonder enige menslike hulp. Dis net HY – van A-Z – wat ons gered het en geroep het om vir Hom te leef. Met DAARDIE redding en roeping het ons absoluut niks te doen gehad nie. Ons het nie ‘n handjie bygesit nie. En dis juis die getroue uitleef van daardie roeping wat Christene soms swaarkry besorg.

Maar, dit kom dan 100% van God af, hoe sal Hy dan nie die krag verleen om die gevolge te deurstaan nie. Alles, maar alles is so diep in God self gegrondves.

Indien ons byvoorbeeld net dink aan die redding – dit is die volle saligheid van die gelowige – dan sien ons dat dit so suiwer uit God self voortkom. Daar is nie 0,0001% menslike aandeel of besluitneming of verdienste nie. Dit is net totaal gegrond in God se eie voorneme, Sy eie besluit en genade. Ja, die diepste fondasie van die verlossing is geanker in die besluit wat Hy self geneem het. Dit gaan oor SY keuse, SY liefde, SY barmhartigheid. Die Bybel noem dit genade. Is dit nie verstommend nie?

Indien ek vandag sekerheid van saligheid besit en die Heilige Gees wat inwoon, kan ek weet dit is omdat God op my ‘n keuse gemaak het. My redding is gegrondves in Hom.

Maar, daar is selfs nog meer as dit: Hierdie genade het Hy aan my geskenk in Christus van ewigheid af – voor die skepping reeds. Efes 1:4 sê ook God se verkiesing gaan terug tot voor die skepping. Dit is eenvoudig enorm! Elke mens wat weergebore word, word so OMDAT hy/sy voor die skepping reeds deur God begenadig was tot saligheid. En dit terwyl so ‘n persoon uit en uit net die ewige dood verdien.

Alles, alles skarnier aan God se besluit, Sy genade en ontferming. En wanneer ons dit besef, spoor dit ons aan om met volle oorgawe vir Hom te leef.

LEES WEER VERS 10

Hierdie genade – waarvan vers 9 praat – is baie radikaal. Dit beteken dat – sonder ENIGE bydrae van die mens – God dit voor die skepping reeds in Sy Raadsplan opgeneem het om Sy mense in Christus te red. Dit is iets geweldig!

Maar – hierdie ewige Raadsbesluit van God het in die geskiedenis konkreet kom grondvat en werklikheid geword toe Jesus Christus in Betlehem mens geword het en op Golgota gesterf het en uit die dood opgestaan het.

NOU is die genade nie meer iets voor die skepping in God se hart nie, maar dit is BY ons! Christus Jesus self vergestalt die genade in vlees en bloed! En dit word in ons ore verkondig. En die Gees werk lewend en kragtig in ons. En in geloofsvertroue op Hom en bekering word ons in ons eie ondervinding gered. Dis nie ver en abstrak nie. Dis hier by en in almal wat tot geloof en bekering kom. Jesus is ons konkrete verlosser.

Iemand wat regtig besef dat hy/sy eendag in die oordeel voor God sal staan en dat jy jouself nie daar sal kan handhaaf nie, SO iemand soek dringend na ‘n Verlosser, soos ‘n terminaal siek mens na genesing soek.

Jesus het nie gekom vir sterwendes wat dink dat hulle gesond is nie. Maar vir sterwendes wat WEET en erken dat hulle sterwend is.

Die mag van daardie ewige dood het Jesus finaal gebreek. Beter nuus kan daar kwalik wees!

Die fisiese en ewige dood is ‘n mag en oefen ‘n houvas uit op alle mense as gevolg van die sondeskuld waarin almal sit. Maar mense wat in Christus gekom het, word nie meer gevange gehou deur hierdie mag nie. Dis die beste nuus ooit! SY dood het hulle dood ingesluk. En SY opstanding het vir hulle onverganklike lewe gebring. ONVERGANKLIK beteken DIT SAL NOOIT OPHOU NIE! Dink daaraan! Dit oortref alles wat hierdie wêreld ons kan bied.

LEES WEER VERSE 11-12

Kyk nou: Van HIERDIE (verwys terug na verse 9-10) Evangelie (Goeie nuus) het God my (Paulus) aangestel as prediker en apostel (gestuurde) en leraar (wat onderrig gee). Evangelie = Blye Tyding.

Wat is die blye tyding? Dat God in Christus die mag van die ewige dood gebreek het – soos vers 10 gesê het.

Van hierdie magtige boodskap het God vir Paulus met ‘n goddelike opdrag aangestel om dit aan alle heidennasies te gaan bedien. Hy is SO oortuig van sy roeping dat hy bereid is om gehoorsaam te bly ten spyte van vernedering en lyding. Dit wys vir ons hoe eg dit is. Paulus is ‘n unieke gestuurde (dis wat apostel beteken) – ‘n verteenwoordiger en herout en leraar – een wat verkondig EN onderrig gee.

Maar moenie vir een oomblik dink dat iemand wat deur die Here geroep is en wat gehoorsaam is, met ope arms deur mense verwelkom sal word nie. Inteendeel. Jy en ek sal ook nie verwelkom word nie. Vir Paulus het sy gehoorsaamheid lyding uitgespel.

Net ‘n jaar of twee gelede het ‘n stuk of 15 gemeentes in Engeland anonieme dreigbriewe ontvang waarin hulle gedreig word dat hulle kerkgeboue met petrolbomme aangeval sal word indien hulle nie ophou om eredienste te hou nie. Dit is gemeentes wat openlik Bybelse standpunte handhaaf wat insny teen die populêre sienwyses van die wêreld. En vervolging gebeur!

Die apostel was egter nie skrikbevange nie, want hy sien die onsienlike. Hy sien HOM wat vertrou kan word. Hy bou sy vertroue op ‘n lewende Persoon.

Hy is boonop ook oortuig van iets. Hy is oortuig dat God DIT wat Hy aan Paulus toevertrou het, sal bewaar. Ja, die Here het die Evangelieboodskap en bediening daarvan aan Paulus toevertrou. En daarom is dit die Here se saak om dit te bewaar. Paulus bekommer hom nie oor dinge wat die HERE hanteer nie. In Paulus se geval sal GOD SELF SORG dat Paulus se boeie en gevangenskap nie die bediening versmoor nie. Die koninkryk VEG vir homself ‘n pad oop, sê die Skrif.

LEES WEER VERSE 13-14

In die gemeentebediening in Efese, moes Timoteus ‘n spesifieke rigsnoer volg. En dit is die gesonde woorde wat hy van die Apostel Paulus gehoor het. Dis die enigste waarheid van die Evangelie PRESIES soos die Apostels dit verkondig het. En dit is die boodskap wat gesond maak en vry is van dwaalleer. Dis die suiwerste uitdrukking van die Christelike Geloof – soos die Apostels dit gebring het. En ons vandag, is bevoorreg om dit alles op skrif te hê in ons NT.

Ons is dus vandag nie een millimeter AGTER Timoteus nie. Ons besit dieselfde apostoliese leer as wat hy gehad het – al het hy nie die NT gehad nie.

Dit is slegs die oorspronklike, unieke apostels wat Jesus self aangestel het, wat woorde kon sê soos: “SLEGS dit wat julle by MY gehoor het, moet jy navolg en self gaan verkondig”.

Dis basies al waaroor die afgelope 2000 jaar van kerkgeskiedenis veronderstel was om te gaan: Verkondiger ná verkondiger na verkondiger, geslag ná geslag moes die apostels se woorde so akkuraat moontlik aan ander leer en hulle weer aan ander. En hierdeur LAAT die Heilige Gees die uitverkorenes uit alle nasies tot redding in Christus kom.

Ja, in Christus BESIT Timoteus en alle ware gelowiges, die HERE se eie liefde en geloof. En daarmee moet ons die suiwer waarheid navolg en verkondig. Dis niks uit onsself nie. Dis die geloof en liefde wat IN HOM is. Te wonderlik vir woorde.

En so mag ons deel wees van die Here se triomftog in die wêreld. Niks is in ons nie. Alles is aan ons toevertrou van Bo. GOD doen dit. HY bou Sy kerk (Mat 16:18). Hy LAAT Sy Gees in die kind van God woon. En dit is juis deur die krag en bediening van die Gees wat Timoteus (en ons) die bediening van die waarheid van die apostels se boodskap moet bewaar.

Luister mooi: Ons MOET dit ten alle koste bewaar. En onbesmet hou en verkondig. Dis ‘n kwessie van lewe en dood. Die feit dat die krag van God self kom, maak al die verskil!

LEES WEER VERS 15…

Die apostel se skryfstyl is so kostelik. Die een oomblik is hy besig om vir Timoteus op te roep om getrou te bly aan sy roeping. En die volgende oomblik onderbreek hy homself om eers ‘n persoonlike mededeling te doen oor die optrede van sekere mense teenoor hom (wat Paulus is) terwyl hy ‘n gevangene in Rome is. Die meerderheid het hom in die steek gelaat, maar EEN het lojaal gebly.

Eintlik is dit nie ‘n onderbreking nie, want hierdeur wil Paulus vir Timoteus aanspoor om nie die meerderheid in hulle afvalligheid te volg nie, maar om saam met die verre minderheid getrou te bly.

Dit is eintlik geweldige woorde in vers 15.

Wat presies die omstandighede was waarna hy verwys, weet ons nie. Hoewel Timoteus uiteraard geweet het. Wie of wat die “almal in Asië” was, weet ons ook nie en dit help nie om daaroor te spekuleer nie. Punt is net: Die apostel was eensaam in gevangenskap en moes tot sy ontsteltenis beleef hoe belydende Christene nie die moed gehad het om met hom te vereenselwig nie en hom in die steek gelaat het. Sommer net so!

En: belangrik: dit was die verre meerderheid. Ja, Onesiforus was getrou, maar die res nie. Wie Figelus en Hermogenes was, weet ons glad nie. Maar Paulus het duidelik hoë verwagtings van hulle gehad. Daarom was hulle troueloosheid vir hom so smartlik. Nee, hulle het nie hulle geloof in Jesus afgesweer nie, maar het nie die moed gehad om openlik met die apostel te identifiseer nie. Hulle het hom dus prakties verloën. Soos Christus self ook sy dissipels ervaar het.

Die Skrif leer dus dat diegene wat werklik volhard met Christus, die minderheid is. Diegene wat regtig die moed het om openlik vir die Here op te staan, is min. Die pad is nou en die poort is smal, het Jesus gesê. Veral om op te staan vir die Groot Naam tussen mense wat nie noodwendig goedgesind is nie.

O, ons moet ernstig bid dat ons tog die moed mag hê hiertoe. Bid dat jy deel van die minderheid mag wees/word en altyd bly! Al kos dit wat!

LEES WEER VERSE 16-18

Hoewel die meerderheid vir Paulus smartlik in die steek gelaat het, het Onesiforus dit nie gedoen nie! Een man – was getrou tot die einde toe. En so ook sy huisgesin.

Dalk het Onesiforus in Efese gebly en na Rome gegaan, moontlik vir ‘n sakebesoek. Toe verneem hy daar dat Paulus in een van die talle gevangenisse was. Hy het dus van gevangenis tot gevangenis gesoek totdat hy die apostel gekry het. En daarná het hy hom dikwels weer besoek en geestelik bemoedig en hom glad nie daaroor geskaam om hom met hierdie man in boeie te vereenselwig nie.

Hierin was Onesiforus dus vir Timoteus ‘n voorbeeld.

Paulus sou bitter graag vir Onesiforus wou beloon vir sy onbaatsugtige toewyding, maar het nie oor die middele beskik nie. Buitendien kan ‘n mens nie by God aanspraak maak op beloning nie. Wel kan ons reken op die Here se barmhartigheid. Sy barmhartigheid is in elk geval die wonderlikste iets. Die apostel vra dus dat die Here tog aan Onesiforus en sy huisgesin barmhartigheid sal bewys. Uit genade alleen. Dis die diepste gebed wat ‘n mens vir iemand anders kan toebid.

Onesiforus was ‘n waarlik weergebore mens – wie se lewe deur God se Gees vernuwe was sodat hy nie meer eiebelang voorop gestel het nie, maar bereid was om te dien. Ook terug in Efese het hy die gemeente gedien en Paulus se belange bevorder. Wat ‘n aansporing vir Timoteus self – en vir ons vandag.

Die EINTLIKE genadeloon is egter nie in HIERDIE lewe nie, maar wanneer die Here terugkeer. Om DAN ontferming te ontvang, oortref alles in waarde.

DAN sal ons baie dankbaar en bly wees dat ons NOU volhard het.

DAN sal ons verneem dat ‘n lewe in volle toewyding aan Christus Jesus nooit tevergeefs is nie.

Wat ‘n vooruitsig!

Category 2 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)