Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

2 TIMOTEUS – REEKS NO 8
Tema: Laaste woorde
Skriflesing: 2 Timoteus 4: 9-22

LEES WEER VERSE 9-12

Dis nou die slotparagraaf van die Apostel Paulus se 2de brief aan die jong leraar Timoteus. Dit sou ook die heel laaste woorde wees wat hy ooit sou skryf, want kort hierná het hy, volgens oorlewering, die marteldood gesterf.

Ter afsluiting, deel hy die een en ander oor sy omstandighede waaruit blyk dat die heel laaste skof van sy wedloop vir Christus maar moeilik was en die eensaamheid groot. God se mense het dit nie altyd maklik nie. Daarom verlang Paulus na Timoteus se bystand en pogings om na hom toe te kom in Rome voordat hy sterf.

Waarom die apostel so eensaam was, blyk uit verse 10-12.

Demas, wat tydens die apostel se eerste gevangenskap in Rome hom bygestaan het, het ‘n gemakliker en veiliger lewe verkies en nie kans gesien om saam met Paulus swaar te kry nie. Sy liefde vir die teenswoordige wêreld was sterker as sy liefde vir Christus en Christus se gesant in boeie. Hy wou nie volle prys vir volgelingskap van die Here Jesus betaal nie. Hieroor is die apostel baie hartseer. Nie almal wat aanvanklik vurig is vir die Evangelieboodskap, kan die pas volhou nie. Dit het Jesus reeds in Matteus 13:21 gesê. Die druk van die wêreld is vir sommige net eenvoudig te erg.

Vir Kressens en Titus en Tigikus – wat getroue medewerkers was – het die apostel na ander plekke en stede (Efese/Galasië/Dalmasië) gestuur om gemeentes te gaan bedien. Om uit te gaan na die nasies was belangriker as om in Rome te bly en vir Paulus te versorg.

Wel was die geliefde geneesheer, Lukas, nog by Paulus. Ons weet dat Lukas hom vroeër op sy 2de en 3de sendingreise vergesel het en dat hulle saam heelwat gevare trotseer het. Hy was die enigste wat vir Paulus tot die bittereinde in Rome ondersteun het.

Timoteus moes egter probeer om ook vir Markus saam te bring Rome toe. Tydens die eerste sendingreis was daar wrywing tussen die Apostel en Markus, maar hulle is intussen versoen omdat hulle ware Christene was en Paulus ‘n hoë dunk van Markus se vermoëns gehad het. Hy was baie diensbaar in God se koninkryk.

Dis so lieflik om altyd te sien hoe die apostel se hart altyd net op EEN saak gefokus was. So absoluut Heilige Gees-beheersd. En daardie fokus is die saak van die Here Jesus Christus. Daarop fokus hy en daarby bly hy tot die einde – tot die oomblik wat hy sy oë sluit en dit weer oopmaak in die Here se direkte teenwoordigheid.

LEES WEER VERS 13

Paulus is dus op die vooraand van sy sterwe. Hy weet dit kom, maar nie wanneer nie. Tog het hy die vaste hoop dat Timoteus nog betyds na hom in Rome sou kon kom. Hy veronderstel dat – indien Timoteus kom – hy vanaf Efese met die groot Romeinse pad – die Via Egnatia – sou reis. Dit wil sê, oor Troas en deur Macedonië na die Adriatiese kus en dan oor die see na Brindisium en van daar oor die land na Rome.

In Troas moet hy dan stop en by ‘n man met die naam Karpus die apostel se reismantel (wat van baie swaar materiaal gemaak is) kry en saambring asook sekere boekrolle – en veral die perkamente.

Paulus was dus aan koue blootgestel en het die naderende winter gevrees. Waarom sy mantel by Karpus was, weet ons nie.

Die boekrolle was waarskynlik afskrifte van sommige van sy briewe.

Maar, die perkament was iets anders. Perkament was in daardie tyd ‘n baie, baie duur skryfmateriaal en was slegs eksklusief vir die boeke van die OT gebruik. Die Bybel, die Skrif dus.

Dit is duidelik dat daar dus sekere boeke van die OT was, wat die Apostel bitter graag in sy laaste dae by hom wou hê, voordat hy Christus deur ‘n marteldood sou verheerlik.

Hierdie klein lysie het ongeveer al sy aardse besittings opgesom – en indien hy VOOR Timoteus se koms sou sterf – sou Timoteus die erfgenaam wees.

Die apostels het – soos die Here Jesus self – eenvoudig geleef en was op geen manier ingestel op aardse besit nie.

Paulus se hunkering na die perkamente – die Skrifte – is egter opvallend. Moontlik was daar op die perkamente ook beskrywings van wat die Here Jesus gesê en gedoen het toe Hy op aarde was. Woorde van Hom, wat mondeling sekuur oorgelewer is.

Wat belangrik is, is Paulus se liefde vir en sy verkleefdheid aan die Skrif. Tot in sy laaste lewensdag, omhels hy dit. Kan hy nie daarsonder nie. Dis die suurstof van sy siel.

LEES WEER VERSE 14-15

Onder sy voormalige medewerkers, in wie die Apostel mettertyd diep teleurgestel geraak het, was Alexander die kopersmid – wat hom besondere smart aangedoen het. Paulus verwys ook na hom in 1 Timoteus 1:20. In Hand 19 word ook na ‘n Alexander verwys, maar ons is nie seker of dit dieselfde persoon is nie.

Punt is net: Hierdie man was aktief negatief en vyandig teenoor Paulus en die Evangelieboodskap – alhoewel hy vroeër bely het dat hy ‘n Christen is en deel was van die Here se werk. Dit kan ons uit 1 Timoteus aflei. Dit is waarom die apostel kerklike tug op hom toegepas het en hom aan satan oorgelewer het sodat hy tot bekering kon kom.

Hy was dus aanvanklik oënskynlik ‘n Christus-gelowige, maar later het sy ware kleure gewys en het hy openlik teen die waarheid gedraai. Hy was dus van die staanspoor af nooit werklik deur die Heilige Gees weergebore nie. Hy het die apostoliese prediking van die Woord en van Christus heftig teengewerk. Wat ‘n allerverskriklike sonde en vergryp teen die lewende God!

Dit is duidelik dat die tugmaatreëls TEEN Alexander, waarvan 1 Tim 1 praat, geen vrug afgewerp het nie. Hy het eerder van kwaad tot erger gegaan. ‘n Glashelder-duidelike teken dat so ‘n persoon nooit waarlik die nuwe lewe ontvang het nie. Hy het nie ‘n persoonlike vete teen Paulus gehad nie, maar teen die Evangelieboodskap as sulks. Dis waarom Paulus vir Timoteus versoek om vir Alexander te vermy, want hy het “ONS prediking teengewerk”. Alexander sou dus vir Timoteus ook teenstaan as dit daarop neerkom.

Uit dit alles, sien ons hoe goddelik WAAR die Evangelie is en hoe die vonke spat waar HIERDIE Woord verkondig word. In die geestelike realm spat die vonke. OOK waar dit teengestaan word, openbaar dit sy krag en die Here God ontvang te alle tye die lof en eer.

LEES WEER VERS 16

Dis duidelik dat die Apostel Paulus ‘n pad van groot eensaamheid gestap het – veral gedurende sy twee periodes van aanhouding in Rome.

Klaarblyklik was daar veel vroeër ‘n voorlopige ondersoek gehou oor WAAROM Paulus hom op die Keiser beroep het (Hand 25 – toe hy voor Festus verskyn het) en wat hy sou verkeerd gedoen het. En daarna is daar ‘n hofsaak gehou. Hierdie prosedures kon destyds met lang periodes vertraag word. Wanneer dit alles gebeur het en wat dit presies behels het, weet ons nie.

Wat ons wél weet, is dát daar so ‘n tipe hofsitting was, waar die apostel sy saak moes stel. Volgens Romeinse tradisie, kon ‘n mens se vriende jou na die hof vergesel ter morele onderskraging.

Niemand het dit egter gedoen in Paulus se geval nie. Lukas was seker toe nog nie in Rome nie. In vers 16 verwys hy moontlik na lidmate van die gemeente in Rome of diegene wat invloed by die geregshof het, wat vir hom ingetree het. Hulle het hom egter almal in die steek gelaat.

Dit is dikwels die ondervinding van ‘n Christen – die eensaamheid. Nie noodwendig fisies nie, maar geestelik en emosioneel.

Ons moet in gedagte hou dat daar baie godsdienstige mense rondom ons is, maar bitter min wat regtig UITVERKOOP is aan Christus en Sy saak en vir wie die LEWE Christus Jesus is.

Dis slegs iemand wat weggegee is aan die Here God, wat iemand anders – wat ook weggegee is – eg en werklik NABY kan wees.

Die Apostel was uitverkoop aan die Here – en alleen in die stryd. So eenvoudig soos dit.

Hy was egter nie bitter nie. Hy koester absoluut geen wrok nie. Nes Jesus vir sy eie moordenaars gebid het en Stefanus vir húlle wat hom gestenig het, net so bid Paulus dat die Here nie die mense hulle sonde moet toereken nie.

Ja, ‘n mens kan teleurgesteld wees in ander, maar steeds sonder bitterheid en altyd mense – wat jou teleurgestel en in die steek gelaat het – in die Here se Naam vryspreek. ‘n Christen doen dit met ‘n wilsbesluit en handel die saak af.

LEES WEER VERS 17

Kyk nou net hierdie wonderlike belydenis uit die Here se lydende dienskneg se mond. Ja, ALMAL het hom verlaat tydens sy vroeëre verhoor – ALMAL vanuit MENSLIKE oogpunt gesien, maar hy is ver van verlate! GODSverlate is hy nie.

Kyk net die skerp kontras met vers 16. MENSE het ge-dit en ge-dat, MAAR die HERE het so-en-so gedoen.

Wat het die lewende God gedoen? Hy het die apostel uit die bek van die leeu gered. Sonder twyfel is Daniel se belewenis in die leeukuil in Paulus se gedagte asook dalk Psalm 22:22.

Dit beteken nie dat Paulus letterlik vir die leeus gevoer was nie. Dit is figuurlik bedoel. Net soos Psalm 22 figuurlik bedoel is.

Die teenstaanders van die Evangelieboodskap het in daardie tyd geen genade geken nie. Hulle was so wreed en ongevoelig soos ‘n leeu teenoor sy prooi. Die Christen was baie magteloos teenoor die Romeinse owerhede en goddelose keisers.

Toe Paulus se eerste verhoor uitloop op onbepaalde uitstel van die vonnis, kon hy met reg sê dat hy uit die bek van die leeu verlos was. Maar, hy weet baie goed dat dit ‘n wonderwerk van Bo was. Die Here het hom nooit verlaat nie. MENSE het hom verlaat, maar nie die Here Jesus Christus nie.

Soos die Here ook aan Sy volgelinge in Matteus 10: 19-20 beloof het – wanneer hulle voor die owerhede staan – die Gees vir hulle die woorde sal gee. Só kon die Apostel behoue bly en aanhou met prediking – die werk van ‘n herout – ‘n uitroeper van ‘n koninklike boodskap. By sy verhoor, kon hy die Romeinse owerhede toespreek en voor die hoogste aardse regbank die Evangelieboodskap van Jesus laat hoor en later ook in Rome sodat die Boodskap wyd kon uitkring.

Uiteindelik sou die Nuwe Testament voltooi wees en die Boodskap alle nasies bereik en selfs in die 21ste eeu is daar geen einde aan die prediking van die Apostoliese woord nie.

LEES WEER VERS 18

Wat nou van die toekoms? Besit ‘n kind van God enige sekerheid oor die toekoms? Ja inderdaad! Paulus bely dat die Here hom ook in die toekoms nabý sal wees. Hy weet dit sommer by voorbaat reeds. Hy weet dat sy hofverskyning en onmiddelike vonnisvoltrekking, nie lank sou duur nie. Binnekort sal hy tereggestel word – vir geen misdaad deur hom gepleeg – maar omdat die Keiser ontslae wou raak van die lastige Christene wat Jesus BO die keiser stel. Juis mense soos Paulus, wat sê JESUS is die HERE en nie die Keiser nie! Weg met hulle!

Vroeër in hierdie brief, het hy reeds gesê dat hy soos ‘n drankoffer uitgegiet word. Sy dood is voor die deur. 2 Timoteus-brief sou sy laaste geskrif wees. Ja, dis ‘n dag van onheil en vir die ongeredde en verlore mens is dit die finale ewige einde van die pad. Maar nie so vir iemand wat by die opgestane Here ingemessel is nie. Die Een wat die dood eiehandiglik oorwin het nie. Wie IN HOM is, kan onmoontlik nie sterf en hel toe gaan nie.

Nee, aan die bose werk wat ménse teen hom bedink en wat op sy gewisse dood sal uitloop, sal die Apostel nie ontkom nie. Maar midde-in daardie situasie, sal die Here hom red. Daarom is hy nie bang vir MENSE – wat slegs die liggaam kan doodmaak – maar niks verder kan doen nie. Soos Jesus ook in Matteus 10:28 beloof.

Paulus sal – ten spyte van fisiese dood – steeds BEHOUE bly en in God se hemelse koninkryk ingaan.

Let op die woordjie: SAL.

Alle eer – tot in ewigheid – aan hierdie Here wat só ‘n volkome oorwinning bied.

Die ingaan in die hemelse koninkryk volg dus onmiddelik op die moment van die dood – vir iemand wat in Christus is. Daar is geen periode van wag of ‘n sieleslaap nie. WANNEER die Christus-gelowige sterf, WORD hy/sy in Christus Jesus se teenwoordigheid opgeneem. Hieroor het die apostel geen twyfel nie.

LEES WEER VERSE 19-22

Hierdie 4 verse is die laaste woorde wat die Apostel Paulus – volgens oorlewering – ooit geskryf het. Waarskynlik in die nájaar van 63nC, want skeepvaart het destyds vir die wintertyd gesluit teen November van elke jaar en Keiser Nero se vervolging van Christene het in die tweede helfte van 64nC ‘n hoogtepunt bereik.

Die apostel sou dus nie in die jaar 64 van Timoteus verwag om Rome toe te kom nie. Wel in 63, vóór die skeepvaart tot stilstand kom. Want Timoteus sou ‘n seereis oor die Adriatiese See moes onderneem.

Laaste woorde dra die grootste gewig. Daarom is die heel laaste woorde so belangrik.

In kort: Die wil en hartklop van die lewende God vir Timoteus en die gemeente wat hy bedien, is om hulle in Sy onverdiende en merietelose vrye guns toe te vou. Dis wat genade beteken.

Dát dít spesifiek God se hartklop is, sien ons in die feit dat dit die Apostel se laaste woorde aan hulle is. Laaste woorde dra die grootste gewig.

Letterlik in vers 21: “Mag die Here met jou gees wees”. Die menslike gees/innerlike mens.

Dis so kosbaar dat die Heilige Gees ‘n kind van God tot in die diepste van sy/haar innerlike mens nabý is en dáár bedien. Die Here is by jou menslike gees. Daar is Hy aan die werk. Daar versterk en onderskraag Hy.

Opvallend ook dat, teen die einde van die apostoliese era, die apostels nie meer die intensiteit van wondertekens verrig het soos aan die begin ná die uitstorting van die Heilige Gees en die eerste dekade of twee nie.

Die apostel het byvoorbeeld vir Trofimus siek in Milete agtergelaat en hom NIE genees nie.

In die grondleggingsfase van die NT-kerk het die apostels en hulle medewerkers direkte wonders gedoen, maar sederdien doen God wonders van genesing wanneer Hy wil en soos Hy wil en meesal in antwoord op gebed.

Rondom ons is daar altyd ware getroue Christus-gelowiges – soos wat Priscilla & Akwilla en Onisiforus, Erastus en almal wat hy hier noem die apostel se medestryders was. Dit is vandag nog presies so. Ware Christene het mekaar lief en vorm ‘n Geesvervulde bondgenootskap – tot eer van die lewende God!

Category 2 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)