Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TABERNAKEL no 3
DIE BRANDOFFERALTAAR en KOPERWASKOM
Skrif: Eksodus 27: 1-8, 30: 17-21, 1 Joh 2:1, 3:6

In die gelowige se lewe is daar ‘n voortslepende konflik aan die gang.

EEN KANT: Hy/sy glo & bely & weet dat hy/sy waarlik ‘n gelowige is, heerlik uit die hemel weergebore en op die kruis bevry van die heerskappy van (die sê van/baasspeel van) die sonde. Iets van: Christus het in my plek gesterf en sodoende het ek saam met Hom gesterf (Gal 2:20).

ANDER KANT: Pynlik bewus van die voortslepende teenwoordigheid (nie die sê/heerskappy nie) van sonde in my lewe. Ja, dit is waar dat ek nie meer ‘n slaaf daarvan is nie – soos voorheen toe ek die Here nie geken het nie. Ek is nie meer onder die dwingelandy van die sonde – soos voorheen – nie. Maar tog… is ek daarvan bewus dat ek steeds kan sondig en dit inderdaad doen. Romeine 7 > Dit wat ek nie wil nie, dit doen ek. Sien die wroeging?

Hoe rym dit dan? Wanneer sal die (soms) sielsuitmergelende stryd dan ooit eindig?

Die persoon wat nog nie weergebore is nie, is nie regtig bewus van so ‘n innerlike konflik nie. Alles loop eintlik okay. Dis iets waaroor nie eintlik trane gestort word nie.

Maar, wat die opregte dissipel van Christus betref, kan hierdie ding só ‘n stryd veroorsaak dat hulle in wanhoop verval. Hoe ernstiger ‘n mens met die Here loop, hoe dieper die toewyding, hoe groter die konflik tussen die nuwe hart en die oorblywende teenwoordigheid van die sondige natuur.

Die brandofferaltaar en koperwaskom in die destydse tabernakel, werp lig op hierdie probleem en bied ook die oplossing.

BRANDOFFERALTAAR: Hier is die plaasvervangende/plekbekledende diere-offers gebring. ‘n Offerdier sterf in die sondaar se plek sodat die sondaar daardeur kan lewe en deur God vrygespreek word. Vergifnis van sonde is nie moontlik sonder dat die straf op sonde deur ‘n plaasvervanger gedra word nie.

KOPERWASKOM: Hier vind die herhaaldelike wassing plaas. Slegs die priesters was hulleself hier, maar hulle verteenwoordig die hele volk/gemeente.

‘n Man kom van die tente af na die tabernakel toe. By hom is ‘n skaap/bok aan ‘n tou. Hy loop langs die wit omheining af. Hy kyk nie na die wit linne nie. Hy is skuldig. Die wit omheining herinner hom aan hoe heilig God is en hoe diep sy sonde is. Hy is onrustig. Iets binne-in hom is nie lekker nie.

Dan kom hy aan die oostekant by die 4-kleurige gordyn wat oor die 10meter-wye opening hang. Hy buk deur die gordyn.

Onmiddelik is hy in die Buitehof van die tabernakel. Daar is nogal baie bedrywigheid. Offerdiere se bloed vloei vryelik. Die oomblik toe hy bínne is, loop hy hom vas in die ruwe, onaantreklike, bloedbesmeerde altaar. Genoem die Brandoffer-altaar. Hy sien niks van die pragtige goud aan die binnekant van die tabernakel nie, want hy staan nog buite die eerste voorhangsel. Hy sien net die ruwe altaar en die bloed. ‘n Grusame voorstelling van die prys en die gevolg & effek van sonde: dood en bloed. Maar ook ‘n heerlike plek van vryspraak, want die bloed getuig van ‘n LOSPRYS wat betaal is. ‘n Plaasvervangende sterwe.

Hy kom by ‘n man in wit geklee. Dis die priester. Daar vind ‘n gesprek tussen hulle twee plaas. Die man praat oor sy sonde en skuldgevoelens.

Dan stap hulle na die brandofferaltaar waar die vuur brand. Die priester sê, met die slagmes in sy hand: “Plaas jou hand op die skaap/bok se kop.” Die man sê saggies: “Moet hierdie mooi dier regtig sterf? Hy is so onskuldig.”

“Nee, hy hoef nie te sterf nie”, antwoord die priester, “maar dan moet jy jouself hier op die altaar kom lê. Dan moet jou bloed vloei. Want God is heilig en sonde is met die dood strafbaar.”

DAARVOOR sien die man nie kans nie. Op geen manier nie.

Dan lê die man sy hand op die skaap. Dit dui op die vereenselwiging met die offerdier. Wanneer die dier sterf, is dit dus dieselfde asof die man vir sy eie sonde sterf. Want sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie (Hebr 9:22). En die sonde word ook deur die handoplegging simbolies op die dier oorgedra.

Ná alles verby is, gaan was die priester sy hande en sy voete in die koperwaskom, namens die man.

Só werk dit ook in 2022 in die lewe van die man en vrou wat waarlik uit God gebore is. Die tabernakel beeld dit in prentjiesvorm uit.

As verloregaande sondaars ontdek ons CHRISTUS as poort/deur. En ons ontdek die KRUIS as brandofferaltaar. En ons besef dat, indien HY nie daar in ons plek gesterf het nie, sou ONS daar moes sterf. Want die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23). Pleks dat ons sterf, sterf Hy. Die onus was op ons, toe doen Hy dit.

En ons besef ook dat die Vader ons só met Christus vereenselwig het in Sy dood, dat onsself óók daar aan onsself gesterf het en dood is vir sonde. Dit word in Romeine 6 geleer.

Met die grootste verwondering ontdek ons hierdie blye evangelie.

En dan lê ons ons hand op Hom. Ons kom tot ‘n sondebesef. ‘n Bekering. ‘n Omkeer. ‘n Vertroue op Christus se offerdood. Ons gaan staan op Sy beloftewoord. Ons glo Hom wat dit alles sê. Ons sê: “Ek glo, Here Jesus, dat U werklik ook in MY plek gesterf het op die brandofferaltaar/kruis.”

U sien: Dit is die betekenis van die brandofferaltaar. Hy het in my plek gesterf en ek het saam met Hom gesterf. My bekering veroorsaak dat my hele wese nou daaraan begin skarnier. Net soos die Israeliet wat sy offerdier na die priester bring.

Die brandofferaltaar spel die hartklop van die ware evangeliese Bybelse Christelike geloof.

Soos u weet, ontlok dit baie antagonisme by die post-moderne mens. Die boodskap van die ALTAAR – die kruis – gee aanstoot omdat die gesofistikeerde opgevoede post-moderne mens nie wil/kan aanvaar dat hy/sy só verdorwe en verlore is dat ‘n OFFER nodig was om versoening te bewerk nie.

Onthou: die boodskap van die kruis dra die merk van die sonde en openbaar WIE die mens regtig is, naamlik ‘n hulpelose verdorwene wat slégs gered kan word deur ‘n offer wat Gód moes bring. Die boodskap van die kruis trek ‘n streep deur ons ingebore hoogmoed en arrogansie en dwing ons op ons knieë neer.

Vir die moderne, opgevoede, trotse, hoogmoedige, selfversekerde westerse mens, is dit eens te veel. Dit word ervaar as ‘n belediging. Daarom liewer die toevlug neem tot die Okkulte en Oosterse godsdienste en filosofieë wat die mens op ‘n troontjie plaas.

Tog mag ons nooit die boodskap van die altaar afswak en kompromiteer nie. Nooit nie. Want daar is geen ander toegang tot die saamwoon-met-God (ware vrede) ánders as deur die altaar/kruis/offerbloed nie.

Kyk maar na die 4 horings op die punte van die altaar. Dit dui op krag en outoriteit en wys na die 4 windrigtings. In die kruisgebeure spreek God met gesag en dit is bedoel vir mense in alle windrigtings.

Maar ek – as mens wat nou die brandofferaltaar proefondervindelik leer ken het – het ook tegelykertyd die koperwaskom nodig om oor en oor en oor gewas te word. Waarom? Omdat ek nog steeds struikel en val – al is ek in beginsel by die brandofferaltaar gereinig en reggestel met God.

Die groot verskil is: My verhouding met God is in beginsel reggestel deur die offerbloed en ek leef nie meer IN die sonde, in die greep van sonde en onder die heerskappy van sonde soos die ongelowige nie.

Maar, ek struikel wel.

Let op die “AS” in 1 Joh 2:1. “AS een van ons (gelowiges – dit is: almal wat reggestel is met God) sondig…..ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die regverdige”

Die koperwaskom is geplaas ná die altaar en net voor die ingang tot die heiligdom. Dit is slegs deur die priesters gebruik op pad na die heiligdom om hulle hande en voete te was, baie keer per dag. Maar die priesters verteenwoordig alle Israeliete/gemeentelede.

Die brandofferaltaar sê: Jy lewe nie meer onder die heerskappy van sonde nie. Jy is nie meer sy slaaf nie. Jy staan REG voor God. Jy IS versoen met God. Dit is afgehandel.

Die koperwaskom sê: Jy is steeds ‘n onvolmaakte mens. Jy kán nog struikel. Jy mag weer en weer gewas word. 1 Joh 3:6 – kan nie aanhou sondig nie – die heerskappy van sonde is in beginsel verbreek. 1 Joh 2:1 – AS ons sondig, reiniging. Dit is nie ‘n weerspreking nie.

Brandofferaltaar: Moenie te klein dink van Christus nie.
Koperwaskom: Moenie te groot dink van jouself nie.

Indien die altaar nie daar was nie, sou ons ontmoedig word in die lewe. Ons sou geen raad weet hoe om reggestel te word met God nie. Sonde sou ons baas wees. Ons sou geen sekerheid van vergifnis en aanneming tot kinders gehad het nie.

Indien die koperwaskom nie daar was nie, sou ons hoogmoedig en oormoedig geword het. “Ek het geen probleem meer nie. Ek is 100% die sonde se baas. Ek kan maak wat ek wil.”

U sien: Die altaar en waskom gaan sáám. Dit hou die balans. Dit bied die volle rykdom van die evangelie.

Indien ek leef vanuit die volle versekering dat God my verenig het met Christus op die kruis en dat ek met God versoen is deur die offer wat Hy aan die kruis gebring het en dat ek saam met Hom gesterf het, maak dit ‘n groot verskil in hoe ek op ‘n daaglikse basis met sonde omgaan in my lewe.

Niks meer van die eindelose, moedelose probeerslae om sonde onder die knie te kry nie. Ek glo ek is nie meer onder sonde se heerskappy nie en klaar. Die brandofferaltaar het daarmee gehandel. Ek besef dat – nie ek nie – maar Christus wat in my lewe, sterker is as enige houvas van sonde.

Indien ek dit glo – o.g.v. die Woord – hou ek egter nie op om self teen sonde te veg nie. Wanneer ek die suigkrag van sonde ervaar, ruil ek dit in by Christus.

U sien: Op grond van die feit dat ek by die brandofferaltaar is en ek in beginsel vergewe is deur die offerbloed, kom ek nou na die koperwaskom toe:

“Here, ek voel hoe trek die sonde aan my, en ek het gefaal en die Gees bedroef, maar ek glo dat dit nie meer nodig is om toe te gee nie, want die krag van U kruis het my uitgeruk uit die greep en heerskappy van sonde. Ek het gefaal, maar lê nie in die stof nie. Ek beroep my daarop dat U my weer en weer was en reinig.”

Sien u die koperwaskom? Op grond van my alreeds regwees met God op grond van die kruisbloed, kom ek aanhoudend met spesifieke goed na Hom. Oor en oor en oor. Elke dag. Vanuit die sekere wete dat die spesifieke sondes my nie in die verderf dompel en God my vervloek, verlaat en verwerp nie, maar JUIS omdat Hy my NIE verwerp nie (o.g.v. die altaar) kom eer ek Hom vir Sy liefde by die koperwaskom:

“Here, hierdie saak in my lewe doen U oneer aan – was my weer. Hierdie verslawing wat my so pootjie. Ek weet sy mag is in beginsel gebreek, maar hy têre my nog. Hierdie tong van my. Hierdie selfgesentreerdheid. Hierdie verkeerde goed wat my so aantrek ens.”

By die waskom, kan ek reguit en op die man af met die Here praat oor myself.

Opvallend: die waskom is van KOPER gemaak. Hy is gemaak van die mense se spieëls (Eks 38:8). Wanneer jy in die waskom inkyk, sien jy jouself – niemand anders nie. Dit wát jy sien, wat die spieël aan jou openbaar, dryf jou uit om weer vas te hou aan God se liefde en vergifnis in die altaar. Jy verval nie in ‘n hopelose en moedelose toestand nie. Jy ís vry en jy blý vry.

Dit is interessant: Die Here het vir Moses deurgaans AL die mates van al die materiaal van die tabernakel tot in detail gegee, maar niks van die waskom nie. Geen mates nie. Dit is asof – uit God se perspektief gesien – die waskom grensloos groot is. Daar is geen perke aan sy groote en inhoud nie. Daar is dus geen perk aan die mate van reiniging wat die waskom bied nie. Sewentig maal sewe keer.

Laat ons gaan léwe met die Here – vanuit die rotsvaste versoening van die altaar/kruis en in die blydskap van die daaglikse vergifnis en reiniging.

Category Tabernakel

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)