Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TABERNAKEL no 5
DIE TAFEL MET TOONBRODE
Skrif: Levitikus 24: 5-9, Johannes 6: 25-35

Wat by die Sondeval verbreek is, is weer in Christus Jesus se verlossingswerk herstel, naamlik die versoende gemeenskap met God vir almal wat tot bekeringsgeloof in Hom kom.

Hierdie versoende gemeenskap sentreer dus in die Persoon en verlossingswerk van die Here Jesus Christus.

Die versoende gemeenskap in die beloofde Messias loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die OT-tydvak in die vorm van ‘n Godgegewe belofte – wat aan die eerste mensepaar gegee is onmiddelik na die sondeval in Genesis 3:15 (moederbelofte) en daarna weer aan Abraham en van daar af van geslag tot geslag deur die verbondsvolk heen. Wie aan daardie belofte begin skarnier het, was die ware OT-gelowiges.

Op talle maniere het God egter die volk Israel gehelp om die belofte in prentjiesvorm konkreet te sien. Hy het die belofte sigbaar en tasbaar gemaak.

Die een manier hoe God in die OT-tyd die belofte van die komende Messias in prentjiesvorm uitgebeeld het, was in die tabernakel en later die permanente tempel in Jerusalem.

Het die destydse volk Israel na die tabernakel gekyk, sou hulle moes kon sien HOE ‘n sondaar weer met ‘n heilige God versoend kan saamleef sonder om verlore te gaan – hoe die sondeval omgekeer is. Die tabernakel is ‘n prentjiesbeeld van die Messias: Wie & wat Hy sou wees en wat Hy sou kom doen om sondaars met God te versoen. Maar ook op watter manier die gelowige as versoende mens met God leef.

Kyk ‘n mens na hierdie manjifieke OT-prentebeeld, kan jy omtrent nooit weer enige twyfel hê oor die Here Jesus nie. Die OT Skrifgetuienis oor Hom, is net eenvoudig deur ‘n briljante super-intelligente ontwerp aanmekaargesit, wat menslik onmoontlik sou wees om te doen. Dit kom werklik van God af. En die getuienis is die waarheid. Wie IN hierdie waarheid begin leef, is vir ewig gered en wie BUITE hierdie waarheid bly, is vir ewig verlore. En dit is die enigste twee groepe mense op aarde.

Gaan weer die prentjies van die tabernakel deur….

Elke element van die tabernakel belig ‘n ander aspek van die EEN Christus. En terselftertyd die verskillende aspekte van die kind van God se lewe met God.

In die SEWE artikels binne die tabernakel – te wete die brandofferaltaar, koperwaskom, goue kandelaar, tafel met vertoonbrode, wierrookaltaar, verbondsark en versoendeksel – sien ons die perfekte voorsiening wat God gemaak en gegee het vir ‘n verloregaande sondaar om weer MENS VAN GOD te word en te wees vir ewig. En die voorsiening is ‘n Persoon. Dis die beloofde Messias, Jesus van Nasaret. En jy verstaan en ken Jesus deur die betekenisse van die 7 artikels. En jy verstaan en ken wat jou wandel met God behels deur die betekenisse van die 7 artikels.

Die basis van die wandel met God is altyd die toegang deur die enigste ingang, die versoeningsoffer op die kruis en die voortdurende proses van heiligmaking. Op hierdie basis lewe die gelowige in diensbaarheid in Christus as die lig, voed op Hom as die Brood van die lewe en doen dit alles deur gebedsgemeenskap met God (wierrook).

Die tafel met die vertoonbrode:

Die TAFEL dui op gemeenskap (fellowship)/vriendskap/verhouding. God berei ‘n tafel (verhouding) en voorsien brood – ‘n simbool van versadiging.

Wie by die ingang ingekom het, deur die offer op die altaar met God versoen is, deelgeword het van die proses van heiligmaking, begin verlang en soek na “fellowship” met God en ander gelowiges wat in dieselfde ondervinding deel het. Hierdie soeke en begeerte is vir die weergebore hart so normaal soos asemhaal vir ‘n lewende liggaam. Maar daar is geen ware gemeenskap indien dit nie die BROOD – die Persoon van Christus as kern het nie. Net die brood alleen. ‘n Ware EREDIENS (byvoorbeeld) is lewend waar die gemeente rondom die Persoon van Christus saamkom en gevoed word deur Hom. Dit is HY wat lewe gee.

Die tafel is klein en van Akasiahout en met goud oorgetrek. Bo op lê 12 ongesuurde brode wat elke Sabbat deur die priesters vervang word.

Die twaalf brode (2 stapels van 6) moes net daar lê… voor die Here. Letterlik: “brood van aangesig.” Ook: “vertoonbrode”. Dit word vertoon voor die Here. Die Here kyk daarna. Daarby moes ook wierrook gebrand word – as offer aan die Here.

In die heidense godsdienste (in die antieke tyd en vandag steeds) speel brood ook ‘n groot rol, maar dan brood deur die méns aan hul god(e) gegee om díé aan die lewe te hou en te pamperlang.

Die waarheid van die Bybel is presies andersom: Die brood word deur die Here aan die mens gegee. Dit is ‘n teken dat die Here die mens aan die lewe hou.

Die 12 brode verteenwoordig die 12 stamme van Israel = die gelowiges dus – die hele gemeente. Die Here gee aan hulle alles wat nodig is vir hul lewensonderhoud. Brood is immers ‘n simbool van ons noodsaaklike lewensmiddele. Die toonbrode is ‘n daaglikse herinnering: alle tydelike seëninge kom van die Here af. En let op: AL 12 stamme word verteenwoordig. Dus: die Here vergeet niemand.

Die 12 toonbrode dra ‘n wonderlike boodskap. Binne-in die heiligdom van God, het die alledaagse stoflike dinge ‘n belangrike plek. Die konkrete materiële lewe van elke dag: eet/drink/klere/huis/inkomste/voertuie/gesondheid/besigheidsafsprake/besluite/ wasmasjien wat breek…

Met die 12 brode IN die heiligdom, wys die Here vir ons iets wat ons byna nie kan glo nie: Ons gewone daaglikse aardse stoflike lewe en bekommernisse het ‘n primêre plek binne die heiligdom/ gemeenskap met God.

Ons is so geneig om die daaglikse stoflike sake LOS te maak van sogenaamde “geestelike” sake. Asof dit op ‘n hoër en laer vlak lê. Siel (belangrik) en liggaam (minder belangrik). Dan dink ons: Vir die Here maak die geestelike sake (hoër vlak) tog sekerlik méér saak.

Nee, hierdie brode bevind hulleself tussen die altaar, waskom, kandelaar en die voorhangsel. Gelowiges se daaglikse brood (materiële stoflike alledaagse aangeleenthede) is dus ‘n diep geestelike saak. Dit het alles te make met die versoening en die heiligmaking. Dit is die Here self wat Sy kinders in die lewe hou deur daaglikse lewensonderhoud.

Dit is totaal onwaar en onbybels dat ons in twee kompartemente lewe: Een kompartement: geestelike lewe waar God ‘n belangrike rol speel – my stiltetyd, gebedslewe, kerkdienste ens. Ander kompartement: aardse stryde waar ek self moet worstel en sukkel met brood en botter en bekommernisse – waarin die Here nie sóveel belangstel as wat Hy in die diep geestelike sake (hoër vlak) belangstel nie.

Kyk maar na die 12 vertoonbrode in die tabernakel. Dit is ‘n lus vir die Here se oë. Hy stel intens daarin belang. Die gelowige se totale stoflike en liggaamlike lewe is voor die Here se belangstellende oog. Hy gee dit en Hy stel belang in wat ons daarmee doen.

Vanwaar het die meel gekom waarmee die brode in die woestyn gemaak is? Van die MANNA. Wie het die manna gegee? Dit was ‘n wonder van bó. Tog is dit nie die mánna wat in die tabernakel voor die Here se aangesig moes lê nie, maar BROOD. Daar moes dus iets met die manna gedóén word. Dit moes bewerk word. Die Here gee dus ons daaglikse brood, maar Hy geniet ook wat ons daarmee doen.

Ons mag ons daaglikse lewe inbring in ons lewe met die Here. Dit is nie twee verskillende wêrelde nie. Dit is nie iets wat die Here se tyd mors nie. Dit is nie ongeestelik nie. Dit is ‘n lus vir die Here se oog: wat ek met my liggaam doen/ hoe ek geld bestee/ gesondheid/ hoe ek internet gebruik/

Dink aan die vreugde op die Here se aangesig wanneer Hy sien waarvoor die brood alles goed was.

Verder moet ons sien dat die toonbrode ‘n óffer aan die Here was. Letterlik: Gedenkoffer. Daarom het daar ook wierrook gebrand. Asof die brood IN die wierrook opgaan voor die Here.

Met ander woorde: Uit dankbaarheid wy ek my stoflike aardse alledaagse lewe aan die Here toe OMDAT ek glo en weet dat alles van Hom kom, dat Hy daarin belangstel, dat dit net so belangrik is as geestelike/geloofsake. Nou kan ek dit ook aan Hom teruggee. Dit word ‘n offer. Omdat ek letterlik die hele aardse lewe aan Hom te danke het, mag ek dit ook teruggee aan Hom. Sodat ek begin besef: my alledaagse lewe is net vir een ding goed: om Hóm te behaag. Só word ek al hoe meer verlos van materialisme en kry die wêreldse breinspoeling nie so maklik ‘n greep op my gemoed nie.

Ten diepste is Christus self die brood van die hemel. Joh 6: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” HY is die Een wat versadig. Hier sien ons weer die noue verband tussen die sogenaamde “geestelike” en “aardse” – dat Jésus (wat staan vir alles wat “geestelik” is) juis bróód gebruik om Homsélf te beskryf as die Een wat versadig. Dat HY die een is na wie die manna heengewys het.

Dit is twee sake wat ons logika net nie bymekaar kan bring nie: JESUS en …… bróód! Hy is tog baie verhewe bó bróód. Dit is hoe ons koppe werk. “Die verhewe Christus kan tog nie Homself “brood” noem nie.” Na ons gevoel is dit twee wêrelde wat nie bymekaar hoort nie.

Wat ons moet sien is dat die Here Hom vereenselwig met ons gewone lewe. Indien ons in gemeenskap lewe met Hom as die brood van die lewe, kry ons aardse brood sy regte plek in ons lewens.

Dit is interessant om daarop te let dat ons Here ook gemaal moes word tot poeier – net soos die manna of koring vergruis word om meel te word. Andersins kan daar geen brood wees nie. Brood moet spesifiek BEREI word. Hy is gemaal soos ‘n koringkorrel wat sterf.

En soos die toonbrode eers ‘n week lank voor die aangesig van God moes lê alvorens die priesters dit kon eet, was die Here Jesus eerstens ‘n offer voor die VADER se aangesig. Hy en Sy lyding en dood moes aan die Vader se eise voldoen. Die sonde oortree immers die VADER se Wet en minag SY liefde en skend SY heiligheid. Daarom was Christus as Brood van die Lewe eerstens ‘n offer aan die VADER. Maar juis daarom ook word ek en jy deur die VADER as kind aangeneem op grond van Christus se offer.

Let op dat die 12 toonbrode op ‘n tafel geplaas was. ‘n Tafel is ‘n plek van “fellowship”/vriendskap/verhoudinge. Omdat ek met God versoen is by die altaar en daaglikse reiniging geniet en in Sy lig lewe – is die gemeenskap (tafel) tussen my en Hom (wat deur die sonde verbreek was) weer van krag. Dit is die tafel. En aan tafel met Hom, groei ek deur daagliks te eet van die Brood van die lewe (Christus self).

Deurdat ek Christus as Brood eet, is die brood op my tafel ‘n lus vir die Here se oog en gee Hy om wanneer ek nie brood het nie. Omdat ek dít weet, kry my aardse brood nie ‘n plek wat bó Christus is nie – soos die wêreld vir ons voorskryf om wel te doen.

Dan besef ek ook dat ‘n geestelike mens ‘n gewone mens is. Die Here bevry ‘n mens om ‘n gewone mens te wees. Iemand met wie die Here in verhouding staan, is ‘n gewone mens. Dit is die wonder waartoe die Here ‘n mens bevry.

Die tafel was nie groot nie, maar oorgetrek met Akasiahout en goud, wat heenwys na die ware mensheid en ware Godheid van Christus. Die simbool van die versadiging van die honger van die siel. Die volmaakte voorsiening vir die behoefte wat die mens het. Dit pas Jesus in Joh 6 presies net so op homself toe.

Dit is die Here Jesus as Persoon wat die verskil maak en wat Lewe gee. Indien ek my voeding buite-om ‘n direkte relasie tot die Persoon van Christus soek, bly ek honger.

Dit is interessant dat daar geen stoele in die tabernakel was nie. Alles moes staan-staan gedoen word. Die priesters moes die brood staan en eet. Hulle kon hulle nie daar tuismaak nie. Hulle kon nie ure lank by die tafel aansit asof hulle vir ewig daar sou bly nie. Slegs Christus kon gaan SIT aan die Regterhand van God, want Sy werk was afgehandel en voltooi. In die tabernakel was die werk nooit afgehandel nie.

O, as ons maar kan leer dat ons nie HIER ons tuiste het nie. Maar dit is mos juis ons aardse brood wat ons laat dink dat alles om die hier en die nou gaan. Daarmee breinspoel die media ons daagliks: hierdie aardse lewe is ál wat van belang is. Ons skatte is HIER. Ons leef op gemakstoele. Ons stáán nie.

Hoe dwaas is dit nie. Enige oomblik kan die basuin blaas en dan moet ons vertrek. Ons moet op ons voete leef. Nie op ‘n gemakstoel nie.

Waarmee sal ek besig wees wanneer die basuin blaas? Met die Brood?

Category Tabernakel

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)