Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TABERNAKEL no 6
DIE REUKOFFERALTAAR
Skrif: Eksodus 30: 1-8, Hebreërs 7: 24,25, 9:24

Op die reukofferaltaar was geen diere-offers gebring nie, maar moes die priester wierrook brand – al word dit ‘n altaar genoem.

Veral moes dit gebeur een maal per jaar op die Groot Versoendag (Lev 16) wanneer alleenlik die Hoëpriester agter die voorhangsel ingegaan het.

Wat beteken hierdie welriekende geur? Waarna verwys dit en waarvan is dit simbolies?

Ps 141:2: “Laat my gebéd soos reukwerk voor U aangesig staan.” Ook Openb 5:8 en 8:3-4 – ‘n direkte verbindingslyn tussen wierrook en gebed. Open 5:8 = die reukwerk IS die gebede van die gelowiges. Openb 8 = ook sprake van die goue altaar en wierook wat saam met die gebede van die gelowiges opstyg voor God.

In die antieke tyd, was die bedoeling van reukwerk om EERBETOON te gee. Byna soos wat daar vandag vir hoogwaardigheidsbekleërs ‘n rooi tapyt uitgerol word .

Óns dink meesal aan gebed as “vra en ontvang” – “Wil U tog gee” & “gee tog dat”. Inkopielysie.

Die wierrookaltaar wys egter vir ons dat dit in gebed gaan om GEE. Maar dan nie God wat moet gee nie, maar ek wat myself gee – in eerbetoon.

Hoe kán dit? Wát het óns, armsalige mensies, om eer te kan gee aan die ewige God? Ons besit tog niks om as lieflike reukwerk aan die hoogste Majesteit te kan gee nie.

‘n Mens word gerusgestel wanneer jy besef dat dit DIE HERE is wat die reukwerk op die altaar gee. Ja, dit is die méns wat bid in eerbetoon, maar dit kom in werklikheid van God af. Dit is Sý reukwerk. Die wierrook is gebrand met die kole wat van die bronsaltaar geneem is – dáár waar die versoeningsoffer gesterf het.

U sien die duidelike korrelasie. Die versoeningsoffer is die enigste meriete op grond waarvan gebed kan slaag. Sonder die kole van die brandofferaltaar, kon die wierrook op die reukofferaltaar glad nie brand nie. Dus: Ons nietige gebede het waarde omdat die versoeningsoffer van Jesus Christus dit effektief maak.

Daarom hoef ons nie in groot spanning te vra: “maar wát / hóé kan EK in gebed gee” nie. Gebed is dan nie meer ‘n meedoënlose meester wat my dryf en dryf en wat my vol skuldgevoelens laat nie. Wanneer ons die Skriflering van die wierrookaltaar begin verstaan, word gebed só ‘n aangrypende saak, dat ‘n mens graag WIL bid. Net omdat jy dit reg leer verstaan.

Kyk of u dit saam met my kan volg. Ek wil dit in drie hoofpunte saamvat:

A. Kyk ‘n bietjie na die plek wáár die reukaltaar staan. Wáár is die wierrook aan die brand gesteek? Vlak voor die verbondsark & versoendeksel, teenaan die voorhangsel. Die Here se direkte teenwoordigheid was ágter die voorhangsel by die ark & versoendeksel. Dit was die troon van God. Só naby die ark was die wierrookaltaar, dat Hebr 9:4 in retrospek sê: “saam” met die ark.

Tóg was daar skeiding: die swaar gordyn was tussen-in.

Die voorhangsel was die simboliese skeiding tussen God & mens (a.g.v die sondeval vanaf paradys) voordat Jesus gekom het. Die gordyn het die wierrookgeur verhinder om by die troon uit te kom. Behalwe een maal per jaar op die Groot Versoendag wanneer die Hoëpriester die reukwerk geneem het en dit agter die voorhangsel gebring het sodat dit die allerheiligste vul soos ‘n wolk. Dán het hy die offerbloed (vanaf die bronsaltaar) op die versoendeksel gesprenkel.

Vir daardie kort tydjie was die voorhangsel – om dit so te sê – “weg”. Die versoeningsbloed het die voorhangsel “weggeneem” sodat die wierrook (gebed) bý die ark kon kom en die priester kon gevolglik bly lewe direk in God se onmiddelike teenwoordigheid – sonder dat hy deur God met die dood getref word.

Dit was ‘n voorsmakie van hoe dit sou wees ná Jesus se sterwe, toe die voorhangsel permanent geskeur het en die heerlike reukwerk van gebed 365 dae, 24 uur opstyg voor die troon – danksy die bloed van Jesus Christus – nie die bloed van ‘n dier nie. Deur Sý bloed is die gordyn van skeiding permanent letterlik weg.

Die reukwerk van ons gebed beteken nou so baie vir God die Vader, want dit dui op die skeiding wat weg is deur Sy Seun se bloed. Só word Christus sélf die welriekende geur wat deur ons gebede voor God kom. Dít is die manier hoe die Christus-gelowige in die gebed eerbetoon gee. Ons gee CHRISTUS, wat in ons lewens kom lewe het deur die bediening van die Heilige Gees en kragtens weergeboorte – en wat die gordyn-van-skeiding weggeneem het met Sy bloed.

Gebed is waarlik gebed wanneer God die Vader sien dat Christus in ons lewe. Jesus is die rooi tapyt/ blommekrans/eerbetoon aan die Vader. Daarom gee gebed aan die Vader soveel vreugde, want dit is eerbetoon aan Hom en die eerbetoon is al die tyd Sy eie Seun. Dit is die WARE eerbetoon. Dit is nie die bidder se mooi woorde en frases wat die eerbetoon eg en waar maak nie. Dit is die welriekende geur van Jesus Christus self.

‘n Mens kan byna sê: Indien ons gebed verwaarloos, ontneem ons die Vader die vreugde van Sy eie Seun. Positief gestel: Hy ag ons gebede baie hoog, want Hy ontvang die eer deur Jesus self wat alle skeiding afgebreek het deur Sy kruisdood en opstanding. En hoe asemrowend word dit nie in die tabernakel geillustreer nie.

Sien u dat dit hoegenaamd nie gaan oor ONS nie. Dit gaan nie oor ons metodes/korrektheid/mooi woorde/ons erns/ons vroomheid nie. Dit is nie ons vroomheid wat ‘n hemelse toets moet slaag – sodat ons gebede effektief en aanvaarbaar is nie! Wat ‘n bevryding!

B. WIE moes die reukwerk aansteek? Slegs die priester. Niemand anders nie. Die priesters se werk was om tussen die mense en God te staan as mediators. Hulle moes as’t ware die mense vir God aanvaarbaar maak deur vir hulle in te tree en te offer. Daarom moes die reukwerk eers deur die priester se hand gaan. Hy moes die reukwerk eers “skoonmaak”.

Opvallend dat, volgens Lukas 1, Sagaria (Johannes die Doper se pa) as priester, in die tempel was op die presiese uur van die aansteek van die reukwerk. En, op daardie selfde oomblik het die volk buitekant gestaan en bid. U sien die verband tussen die gebed en die reukwerk. Maar sien ook die priester se rol. Sý reukwerkaanstekery maak die gebede van die mense aanvaarbaar voor God.

Vandag is daar net een priester (Hebreërs 7): Christus aan die regterhand van die Vader. Hý is die tussenskakel, die Voorspraak. Hý beveel ons gebede by God aan. Hy tree in.

Dit is die tweede manier waarop ons eer aan die Vader bring deur gebed. Ons vestig God se aandag NIE op onssélf nie, maar op Sy Seun aan Sy regterhand as Hoëpriester wat ons gebede aanvaarbaar maak deur Sy voorspraak. En hoe verheug die Vader Hom nie hieroor nie!

Al is ons gebede hoe krom en skeef, wat saakmaak is die Priester by die troon. Christus is die eintlike vervulling van die wierookaltaar as die Groot Voorspraak (Hebr 9:24) – besig om voortdurend wierrookgebed te offer (by die reukofferaltaar) ten gunste van húlle vir wie Hy met Sy bloed gekoop het (by die brandofferaltaar).

Ons het reeds gesien dat ons Here Jesus Christus die vervulling is van die wit omheining, die ingang, die 4 kleure, die metale, brandofferaltaar, die koperwaskom, die goue kandelaar, die tafel met vertoonbrode, die voorhangsel. En nou ook: Hy is die vervulling van die reukofferaltaar.

So wonderbaarlik is dit: By die bronsaltaar sterf Jesus om sondaars met God te versoen. By die goue wierrookaltaar LEWE Jesus vir ewig om in te tree vir hulle wie Hy versoen het – Sy LEWE voor Sy Vader se aangesig handel met ONS daaglikse stryd en onvolmaaktheid en sodoende word ons dag na dag verlos deur Hom wat as Advokaat/voorspraak/mediator in ons plek voor die Vader staan – as ‘n welriekende geur voor Sy aangesig. Só word ons vir ewig en ewig BEHOU. Só bly ons behoue.

C. Hoe is die reukwerk voorberei? Presies volgens die plan wat die HERE daarvoor gegee het. Reukwerk mog nie voorberei word volgens die MENS (priester) se vrome willekeur en eie goeddunke nie, maar soos die HERE dit wou hê.

Dit is juis die hele punt: Óns kan nie bid soos die Here dit wil hê nie! Ons weet gewoon nie hoe nie. Ons het nie die vermoë nie. Ons kan nie by Sy resep bly nie. Ons is geklee in baie swakheid. Ons is uit onsself NIE gebedsreuse nie!

Romeine 8:26: “Ons weet nie wat en hoe nie. Maar die Gees staan ons in ons swakheid by”. Wie praat hier? Die groot gebedsman, Paulus. Maar kyk wat sê hy: SWAKHEID. Hy sluit homself daarby in, want hy praat van “ons”.

Die Heilige Gees kom egter letterlik ons swakhede te hulp. HY pleit met onuitspreeklike sugte. Daar is ‘n Helper in ons lewens teenwoordig wat ondersteun. Só alléén kan ons die reukwerk wees volgens God se plan en wil.

Uit onsself weet ons gewoon nie hoe nie, maar ons mag ten volle reken op die Trooster (wat op Pinksterdag aan ons gegee is). Slegs Hý weet presies hoe om eerbetoon aan die Vader te gee. Hy kom buig ons gebede óm na God se wil. En die Vader hoor die sugte van die GEES wanneer ons bid. En dit gee die Vader eindelose vreugde. Dit is soos ‘n welriekende geur.

Wanneer ons gebed só beskou, besef ons hoe heerlik dit eintlik is. Dit is nie net ‘n inkopielysie waarmee ons na die Here toe hardloop nie. Dit hang nie af van ons mooi en korrekte woorde nie. Ook nie van ons erns en ons vroomheid nie. Dit is nie bedoel om ‘n eindelose stuk spanning te skep te same met skuldgevoelens nie.

Nee, dit is iets wonderlik. Om te mag weet dat ons heeldag aan die Here eer kan bring deur SY werk deur ons. Mag hierdie bevrydende evangeliewoord elkeen van ons aanspoor en motiveer om manne en vroue van gebed te wees.

Dank God vir die wierrookaltaar in daardie tabernakel, wat al die eeue lank ‘n suiwere boodskap uitgestraal het. ‘n Boodskap wat ons hier in 2022 deur verbondenheid aan ons Here kan verstaan en kan beleef.

Category Tabernakel

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)