WIE IS DIE VRYE GEMEENTE TAFELBERG?
Vrye Gemeente Tafelberg is ‘n onverbonde Nederduitse Gereformeerde gemeente. Die eerste van hopelik baie wat nog sal volg!
Dit beteken dat ons eens deel was van die NG Kerkverband, maar op 22 Junie 2023 ons verbintenis met daardie kerkverband opgeskort het en voortgaan om as ‘n onverbonde Nederduitse Gereformeerde gemeente totaal buite die NG Kerkverband (Ring, Sinode en Algemene Sinode) te bestaan. Dit was voorwaar ‘n unieke moment van kerkhistoriese betekenis!
Die gemeente behoort dus glad nie meer tot die NG Kerkverband nie, maar behou ten volle haar identiteit as NG Kerk Tafelberg onder die bedryfsnaam van Vrye Gemeente Tafelberg.
Die rede waarom die gemeente die band met die NG Kerkverband opgeskort het, was as gevolg van tendense van vervreemding van die Skrif en belydenis wat in snelgroeiende maat in die NG Kerkverband se teologiese arbeid, publikasies, uitsprake van teoloë en Sinodale vergaderings waargeneem is en waaroor die gemeente vir byna vier jaar in ‘n staat van dolering (treur) was. ‘n Teologies-kerklike grondverskuiwing het die afgelope paar dekades plaasgevind (en is steeds aan die gang). Daar was ongelukkig geen teken van ‘n ommekeer by die NG Kerkverband nie, trouens daar is gekies vir die weg van konfrontasie en vervolging om die gemeente teruggedraai te kry na hulle agenda. Dit is gewoon nie meer moontlik dat die gemeente haarself langer blootstel aan die opsig en teologiese leiding van die NG Kerkverband nie.
Die rede waarom daar besluit is op die bedryfsnaam van “Vrye Gemeente Tafelberg” is gebaseer op die tradisie van vrye kerke (free churches) wêreldwyd waar dit gaan oor vry wees VAN iets en vry wees TOT iets anders:
1 > Vry VAN verstrengelende dwaalleer en afvalligheid
2 > Vry TOT dieper verbondenheid aan Christus en sy Woord
Vrye Gemeente Tafelberg is op 22 Junie 2023 deur die Here vrygemaak VAN verbondenheid aan ‘n kerklike sisteem wat afwykende leer akkommodeer en ook vrygemaak TOT dieper verbondenheid aan God se Waarheid.
Ons sou ook goedskiks “Tafelberg Gemeente” kon gebly het (soos voor dolering), maar die gevoel was dat iets van die bevryding wat die Here in die gemeente kom verrig het, in die bedryfsnaam beskryf moet word. Daar het immers iets groots en geskiedkundig gebeur. Die Here het ons vrygemaak!
Het jy die Here Jesus as jou Verlosser lief en dors jy na die Bybel as onfeilbare Woord van God en skarnier jy aan die gereformeerde belydenis?
Wel, jy is meer as welkom by die Vrye Gemeente Tafelberg!

